Gedagte vir die dag: Vars vrugte: Liefde

Foto: pixabay.com

Lees Markus 12:28-31

Die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie. (Galasiërs 5:22-23)         

Gestel jy is ’n groot aanhanger van die kunstenaar Pablo Picasso. Jy vertel vir mense dat jy versot is op alles van hom. Jy kan nie ophou om oor hom te praat nie en jy vertel vir almal dat hulle ook van hom behoort te hou. Maar … jy haat sy kunswerke en kritiseer dit die hele tyd. Hoe kan jy sê jy is versot op “absoluut alles” aan hom, maar jy haat wat hy geskep het?

Dieselfde geld vir God. As jy regtig lief is vir God, sal jy ook lief wees vir die mense wat Hy geskep het, en dit sluit jou in.

Die eerste vrug van die Gees wat in Galasiërs 5 genoem word, is liefde. Ek kan sien hoekom dit heel eerste staan. Die vrug van liefde is die sleutel tot al die ander eienskappe. In Markus 12:28-31 vra ’n skrifkenner vir Jesus: “Watter gebod is die heel belangrikste?” Jesus het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag.” Toe het Jesus ook vir die man gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” En in 1 Korintiërs 13:13 staan daar: “Al wat altyd sal bly, is geloof, hoop en liefde – hierdie drie. Maar die grootste hiervan bly steeds die liefde!”

God wil hê ons moet liefde uitleef. As ons God met ons hele hart, siel, verstand en krag liefhet, gee ons vir Hom ons alles en hou ons niks terug nie. Ons liefde vir ander mense is egter direk aan ons liefde vir God verbind. 1 Johannes 4:20-21 sê: “As enigeen beweer: ‘Ek het God lief,’ maar ’n broer of suster haat, is só ’n persoon ’n leuenaar, want as ons ’n broer of suster wat ons elke dag sien, nie liefhet nie, kan ons mos nie vir God liefhê wat ons nie kan sien nie. As ons God liefhet, moet ons ook ons broer en suster liefhê.”

Wanneer ons aanhangers van God is, moet ons ook vir sy kunswerke lief wees – mense.”

Hartspraatjies:  Dogter, na wie dink jy verwys Jesus wanneer Hy sê: “Jy moet jou naaste liefhê”? Wie is jou naaste? Is jou naaste net die mense in jou familie of vriendekring? Ma, vertel vir jou dogter wat jy dink dit beteken om jou naaste so lief te hê soos jouself.

Bron: Die Eenjaar Ma en Dogter dagboek deur Dannah Gresh
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.