Gedagte vir die dag: Vars vrugte: Vriendelikheid

Foto: pixabay.com

Lees Efesiërs 4:29-32

Die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie. (Galasiërs 5:22-23)

Toe my seun, Rob, in die hoërskool was, was een van die take wat hulle gekry het om ’n verrassende liefdesdaad vir iemand te doen. Hy en ’n paar van sy vriende het besluit om koekies te bak, aan mense se deure te gaan klop en vir hulle die koekies te gee. By een van die huise het ’n middeljarige vrou en haar tienerdogter die deur vir hulle oopgemaak. Die vrou kon nie glo dat drie hoërskoolseuns iets so wonderlik doen nie.

“Hoekom doen julle dit?” wou sy weet.

“Dit is vir ’n skooltaak,” het een van hulle gesê.

“Ons wil God se liefde vir mense wys,” het ’n ander een gesê.

Sy het die koekies gevat en die deur toegeklap.

’n Week later het daar ’n brief by die skool aangekom met ’n verskoning van die vrou. Jy sien, haar man is ’n paar weke tevore oorlede. Daardie oggend het sy en haar dogter gebid: “Here, as U ons en ons pyn regtig raaksien, wys dit vandag op ’n eenvoudige manier vir ons.” Dit was ’n wanhopige uitroep om hoop te ontvang. God het hulle gehoor. Die vrou wou dankie sê en het opgemerk dat “niemand vandag meer sulke vriendelike dinge doen nie”. Sy het geweet wat die seuns gedoen het, het van God gekom. Om goed te wees vir ander mense is ’n manier om God se goedheid teenoor ons na ander mense toe te laat vloei. Efesiërs 4:31-32 sê vir ons: “Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.” In ’n wêreld vol haat is vriendelikheid en liefde baie opvallend.

Hartspraatjies: Beplan saam om iets goeds vir iemand te doen. Wat kan julle doen om God se goedheid teenoor julle na iemand anders te laat vloei? Het iemand se tuin versorging nodig? Is daar ’n ma wat ’n aand uit nodig het, maar nie geld het vir ’n kinderoppasser nie? Beplan julle goeie daad en gaan doen dit dan. Iets baie eenvoudig kan ’n groot verskil maak.

Bron: Die Eenjaar Ma en Dogter dagboek deur Dannah Gresh
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scholtz ·

Haat is swart; vriendelikheid en liefde is wit. Wit staan uit teen swart. Haat is van die koninkryk van duisternis, waaroor Satan heers; vriendelikheid en liefde is van die koninkryk van lig, waaroor die ewige eerste persoon van die ewige drie-enige Godheid, Yahweh, heers. Satan is haat; Yahweh is liefde. Satan se kinders stook haat, want soos pa, so kind; God Yahweh se kinders moet hulle Vader nadoen en vriendelik en liefdevol wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.