Gedagte vir die dag: Vat dit soos ’n koning

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Wie na kritiek luister, sal lewe. Jy sal tuis wees tussen mense met wysheid. (Spreuke 15:31)

Die vlamme van kritiek kan jou skroei, maar hulle brand ook oortollighede af sodat jy die waarheid omtrent jouself beter kan sien, en kan sien wat jy daaromtrent kan doen.

Miskien verwag jy nooit kritiek nie, hetsy gemeen óf konstruktief (en soms is dit dieselfde ding). Nie omdat jy dink almal moet met jou saamstem nie, maar omdat jy dit haat om self kritiek uit te deel. Selfs wanneer mense jou vir eerlike terugvoer vra, kan kritiek ongemaklik en konfronterend wees.

Maar wanneer ander se woorde jou sny en die trots pynlik in jou keel vassit, moet jy in staat wees om te sluk. Jy wil dit tog met grasie ter harte neem sodat jy, soos Salomo gesê het, kan tuis wees tussen die wyses. Salomo het ook gesê: “’n Vriendelike antwoord kalmeer die gemoedere” (Spr. 15:1).

Miskien is dit die sleutel? Wanneer jy gekritiseer word, haal diep asem. Gee ’n kalm, sagte antwoord, soos: “Baie dankie dat jy daardie perspektief met my gedeel het. Ek waardeer dit.” Loop dan statig weg en haal nog ’n slag diep asem.

Salomo se taktiek – ’n vriendelike en sagte antwoord – verander dalk net ’n kritieke (en kritiese) verhouding waarin jy jou bevind. Is jy bereid om dit te probeer?

Here, help my om te leer om na kritiek te luister en om in liefde daarop te reageer. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

thea ·

hoe gaan mens te werk om hierdie te kan print ek wil dit graag vir my kinders voorlees en het nie n foon wat ek van af kan lees nie so ek wil dit kan print om dit vir hul voor te lees.

Janie Monsieur ·

Dagsê thea,

Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan stoor, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan die dokument in ʼn .pdf-formaat stoor en dan uitdruk.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.