Gedagte vir die dag: Vat dit soos ’n profeet

 man_pad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek met ’n boodskap na my volk toe stuur? Wie sal vir Ons gaan?” Ek het geantwoord: “Here, ek sal gaan! Stuur my!” Hy het gesê: “Ja, gaan. Sê vir hierdie mense só: ‘Julle sal my woorde hoor, maar dit nie verstaan nie. Julle sal sien wat Ek doen, maar nie die betekenis daarvan snap nie.’” (Jesaja 6:8-9)

God het ’n boodskap gehad vir sy mense. Hy het Jesaja geroep om die boodskap te bring, en Jesaja het die roeping aanvaar. Maar net soos Jeremia, moes Jesaja geweldige vyandigheid van sy mense verduur.

God het vooraf vir Jesaja gesê dat die mense nie na sy boodskap sou luister nie, maar Hy het hom geroep om nogtans aan te hou praat. Dit maak nie saak hóé hard die mense se harte was nie. Dit maak nie saak hoe min mense geluister het nie. Jesaja het gehoorsaam volhard. Hy het aanhou teruggaan, omdat God so gesê het.

Dit voel dalk vir jou of die konflik of die weerstand wat jy ervaar nie binnekort opgelos gaan word nie. Dit is blywend en onverbiddelik. Maar net soos God Jesaja ondersteun het om sy lewensroeping te voltooi, sal Hy jou ook ondersteun. Skep moed. Jy is jou dapperste, pragtigste en waarste weerspieëling van sy genade wanneer jy aanhou sê: “Hier is ek. Stuur my.”

Voel dit vir jou tevergeefs om ander mense se afkeuring of weerstand te probeer hanteer? Kan jy vertrou dat God, ten spyte hiervan, aan die werk is en jou behoeftes koester?

Here, dis uitmergelend om ander se verwyte te hanteer. Dit voel of dit nimmereindigend is. Hou my asseblief staande. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.