Gedagte vir die dag: Veel meer as wat jy bid of dink

vrou_arms_uitgestrek_sonsondergang_see.png

Foto: onestoneaway.com

Lees: Efesiërs 3:14-21

Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen. (Efesiërs 3:20-21)

Jare lange vriende van ons het ons laat weet dat hulle jongste seun en sy vrou ’n Edward-sindroombaba verwag, en dat hulle besluit het om die baba te hou. Toe ek Edward-sindroom op die internet nalees, was ek verpletter. Hierdie babas is nie net baie erg verstandelik gestrem nie, maar ook totaal misvormd. Die meeste van hulle sterf voordat die fetus drie maande oud is, maar ons vriende se skoondogter was later byna nege maande swanger. Ek was baie opstandig dat God nie ingegryp het nie.

Ons gebedsketting het vir die jong gesin gebid (hulle het reeds twee ander kinders gehad), maar eintlik het ons nie geweet waarvoor om te vra nie. Net voor die baba gebore sou word, is hy in die baarmoeder dood. Hulle het ’n keisersnee gedoen, en die baba was inderdaad misvormd. Ons vriende kon egter die baba doop voordat die gesin saam afskeid van hom geneem het. Die twee jong mense het die gerusstelling gehad dat hulle nie besluit het om ’n lewe te neem nie – God het inderdaad die beste geweet.

God kan (en sal) ook vanjaar vir jou oneindig meer gee as wat jy bid of dink deur sy krag wat in jou werk. Onderneem om Hom blindelings te vertrou en nie jou eie oplossings te beding nie.

Vader, baie dankie vir die gerusstellende belofte dat U in staat is om vir my nog oneindig meer te gee as wat ek bid of dink. Ek maak staat op u krag in die jaar wat voorlê. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.