Gedagte vir die dag: Veilig by Hom

man-with-open-arms-705x335.jpgBedaar en erken dat ek God is, hoog bo die nasies … (Psalm 46:11)

Hier by ons is die lewe vandag goedkoop. Mense word aangeval en ver­moor vir enige rede – uit wraak of om besteel te word, soms net om­dat hulle uit die weg geruim moet word. Moord en doodslag het nuus geword – die bloeddorstigheid daarvan, maar ook die pyn van dié wat oorleef het en agterbly. Ons bou mure en heinings om ons huise, ons beveilig dit met elek­trisiteit en kwaai honde, ons sit ’n wag voor die hek. Daarbuite is dit ewe on­veilig. Kapers keer onskuldige motoriste by verkeersligte of verlate kruispaaie voor. Dis nie meer veilig om snags in die stad te ry of op die langpad te wees nie. Die televisie saai berigte uit van massamoorde en oorloë ver buitekant ons grense en ons wonder wanneer kom ons aan die beurt.

Dit was nie soveel veiliger in die outyd nie. Toe was daar ook struikrowers wat onskuldige reisigers aangeval het en oorlogsugtiges wat klein dorpies binnegevaar en geplunder het.

God laat dit nie ongesiens verbygaan nie. Lees gerus die wêreldgeskiedenis. Uitgebreide imperiale koninkryke word ingeneem deur volke wat voorheen nie deur hulle gereken is nie. Nasies kom en gaan. Elke oorlog het ’n draai­punt. Dié wat vandag wen, is môre aan die verloorkant. Roemryke veldhere sneuwel en diktators word voor wêreldhowe gedaag en gevonnis.

Daar is mense wat oorleef en getuig van God se voorsiening. Hy is Koning van die heelal en Hy is in beheer. Verklaar vandag: ‘My geloof sal nie wankel nie, Hy is my liefdevolle Vader en Hy sal my beskerm.’

Ek wil saam met Dawid getuig: Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting (Ps 18:3).

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Roela ·

Dankie Abba Vader niks maak sin in hierdie wereld sonder U in my hart!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.