Gedagte vir die dag: Verbondenheid

 Snoei_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Johannes 15: 1-4

“Julle moet in My bly en Ek in julle” (Johannes 15:4)

Daar is sekerlik geen ander geleentheid waar Jesus ‘n duideliker prentjie van die verbintenis tussen sy Vader, Homself en sy navolgers skets nie. Selfs ons, eeue later, kan dit begryp.

Die beskrywing is skerp en op die man af. Skerp, en seer, die woorde: snoei reg, sny af. Die toets of die snoeiskêr ingelê gaan word, is “vrugte dra” (v. 2). Eintlik, sal sommige dalk sê, word dit ‘n ultimatum, selfs ‘n dreigement: Dra vrugte, óf … !

Dalk is dit eerder ‘n pleitrede, ’n mooivra: Asseblief, moenie van My aflos raak nie! En hoor tog hierdie troos: “Julie is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het” (v. 3).

Die woorde …

Miskien is dit die uitweg vir brose, meestal weerlose lote soos ons: Luister na sy woorde, neem dit ter harte, lewe daarvolgens. Dit kan tog nie te moeilik wees nie, want hierdie woorde kom nie van ver af nie en beslis ook nie van bo nie; dit kom van binne. Dit vloei uit die wingerdstok voort en stu soos lewegewende sap deur die lote. Dit bring nuwe lewe voort. Dit maak die lote soepel, buigsaam. En dit maak die snoeiskêr oorbodig.

Wanneer daar egter ‘n blokkasie intree, wanneer die loot verdroog en uiteindelik van die wingerdstok los raak, begin die moeilikheid. Geen nuwe groei meer nie, beslis geen vrug nie. Die snoeiskêr is op pad. Want die Jesuswoorde het iewers gestol. Dit is voorgekeer en weggewerk. En die verval is onafwendbaar.

Hou aan om met my te praat, Here Jesus! U woorde hou my aan die lewe.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.