Gedagte vir die dag: Verdriet is beter as om te lag

jerusalem_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is. (2 Timoteus 2:1)

Ly dan verdrukking soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus. Niemand wat ’n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het. En verder, as iemand aan ’n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie. (2 Timoteus 3-5)

Lyding is deel van ons lewe sê Paulus vir Timoteus in ons Skrifgedeelte. Prediker 7:3 sê: “Om verdrietig te wees, is beter as om te lag; want as die gesig droewig is, gaan dit goed met die hart.” Bedoel hy dat ons ongelukkig moet wees? Nee, natuurlik nie! Paulus sê in 1 Tessalonisense 5:16, 18: “Wees altyddeur bly. Wees in alles dankbaar.” In Filippense 4:4 lees ons: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” Ons moet ernstig wees oor God se dinge.

As jy smart ly, dink jy minder aan die wêreld en meer aan die hemel. Die vroeë Christene is vervolg, en gemartel; hulle het smart gely. Nogtans het hulle meer oor die hemel gepraat as oor die aardse dinge. Paulus het ook vir Timoteus gesê: “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Timoteus 3:12). Dit maak my hartseer as ek meer oor die tydelike as oor die ewige van die preekstoel af hoor. Kyk wat sê Hebreërs 11:13 oor die vaders van die geloof: “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.” Hulle fokuspunt was nie die wêreld met sy hartseer en beproewings nie; nee, dit was die belofte van die ewigheid.

Hebreërs sê dat Jesus die kruis kon verduur omdat sy fokus op die hiernamaals was: “Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het” (Hebreërs 12:2). Wanneer jy die ewigheid reg verstaan, kan jy lydende mense beter bedien. Dit sal jou ook help om jou eie lyding in perspektief te sien. Lyding gaan verby, ewigheid duur vir altyd: “Om verdrietig te wees, is beter as om te lag.”

My Vader, ek besef dat ek so dikwels op die tydelike fokus. Dit is hoekom dinge soms so reusagtig groot lyk. Wanneer ek besef dat dit alles sal verbygaan, begin ek dinge in perspektief sien. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U deur die werking van die Heilige Gees ons geloofs oe en ore open…..ons stryd hier op aarde is niks invergelyking met die heerlik wat vir ons wag nie. My gebede Heer vir elkeen wat vandag verblind is deur swaarkry en uitdagings wat die lewe bied….versterk ons in Jesus Naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.