Gedagte vir die dag: Vergeet om te vergeet

 bospad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. (Fil. 3:15)

In die animasiefliek The Lion King is daar ’n klassieke oomblik. Die jong Simba is baie moedeloos oor sy donker verlede en wens dat hy dit kan verander. Pumba die vlakvark probeer raad gee, maar maak ’n flater toe hy die verkeerde woordorde gebruik: “You got to put your behind in your past.” Timon die meerkat help hom as volg reg: “No, no, no you amateur, lie down, before you hurt yourself. It’s you got to put your past behind you.”

Volgens Filippense 3:14 is geestelike volwassenheid ’n gesindheid. Vers 13 verklaar wat “hierdie gesindheid” is, naamlik “ek maak my los van wat agter is”, of in Timon se woorde “you got to put your past behind you”.

Elkeen van ons het ’n verlede. As jy oor jou lewe terugkyk, sien jy die letsels. Dit is dié letsels wat jou gehelp het om lewenslesse te leer en nie weer dieselfde fout te maak nie. Dalk is daar hier en daar nog iets in jou lewe wat jou terughou om in jou ideale toekoms in te stap. Die wonder daarvan is dat God se vergifnis allesomvattend en oombliklik is. Gee dit vir hom, aanvaar die waarheid dat Hy jou vrymaak en “maak jou los van wat agter is”.

Elkeen van ons het ook ’n toekoms. In dieselfde vers 13 staan daar “ek strek my uit na wat voor is”. Paulus, wat hierdie verse skryf, sien uit na die wenstreep en hemelse prys. Die toekoms waarna jy kan uitsien, is nie net die hemel nie, maar alles waar na jy kan uitsien vandag, môre en in die jare wat voorlê. Kies vandag om jou los te maak van wat agter is.

Vader, ek gee alles wat in die verlede gebeur het nou vir U. Ek maak my los van wat agter is en “ek strek my uit na wat voor is”. Ek bid dit in die Naam van Jesus. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.