Gedagte vir die dag: ’n Verhouding met God = vrede en vreugde

Hemelvaart_Opstanding_Stiltetyd.jpg

Foto: christianheadlines.com

Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. ’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. (Johannes 10:9-10)

Die ware verhaal van Horatio Spafford, regsgeleerde en sakeman wat in die 1800’s geleef het, gryp my telkens aan as ek daaraan dink. Spafford se vrou en vier dogters het die Atlantiese Oseaan per skip oorgesteek. Toe bots hulle skip met ’n ander een. Saam met meer as twee honderd ander mense het Spafford se vier dogters hulle lewe in die tragiese ongeluk verloor. Spafford se vrou het oorleef en die vreeslike nuus per telegram aan haar man meegedeel. Sy hart was gebreek en hy het die eerste skip geneem om by sy treurende vrou uit te kom. Die kaptein van die skip het Spafford die plek gewys waar hy gemeen het die tragiese ongeluk plaasgevind en soveel mense hulle lewe verloor het.

Daar word vertel Spafford het net na die golwe gestaar en daardie aand die woorde geskryf van wat ’n baie bekende en geliefde Christelike lied sou word: “As vrede my pad deur die wêreld verlig, as smarte my dreig te verniel, dan antwoord ek vry, watter lot my ook tref. Dit is wel, dit is wel met my siel.”

Toe ek hierdie verhaal die eerste keer gelees het, het ek my afgevra of ek, nadat ek vier kinders verloor het, sou kon sê: “Dit is wel met my siel”? Hoe op aarde kry ’n mens dit reg? Ek vermoed Spafford het in daardie vreeslike tyd op God bly fokus en dit is dan wanneer God jou vrede skenk wat alle verstand te bowe gaan.

Hartseer is deel van die gebroke wêreld waarin ons leef, maar wat ons omstandighede draagbaar maak is dat God ons deur hierdie tye dra. Sy diepe vrede is nie afhanklik van omstandighede nie, Hy gee ons vrede te midde van storms wat om ons woed. Net as jy in ’n lewende verhouding met Hom staan, kan jy vrede en vreugde te midde van jou omstandighede ervaar. Dit is ’n oorvloedslewe.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Violet ·

Ek bid as so iets my oorkom sal my geloof my ook daardeur dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.