Gedagte vir die dag: Die verhouding met Jesus 

sout-man-dra-swaar-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. (Matteus 5:41)

Die leer van ons Heer kan as volg opgesom word: die verhouding wat Hy van ons verwag is onmoontlik, tensy Hy ’n bonatuurlike werk in ons gedoen het. Jesus Christus vereis dat daar in die hart van sy dissipel nie die geringste mate van afkeer mag wees wanneer hy voor die tirannie van onregverdigheid te staan kom nie. Geen entoesiasme sal die spanning kan verduur waaronder Jesus Christus sy dienskneg plaas nie. Daar is maar een ding wat daardie spanning kan verduur en dit is ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus self. ’n Verhouding wat ondersoek is, gereinig en gelouter is, totdat slegs een enkele doel oorbly en ek waarlik kan sê: “Ek is hier vir God om te stuur waar Hy wil.” Alles anders mag vertroebel raak, maar hierdie verhouding met Jesus Christus nooit.

Die bergrede is nie een of ander onbereikbare ideaal nie; dit is die werklikheid van wat in my sal plaasvind wanneer Jesus Christus my natuur verander deur sy eie natuur in my binneste te plant. Jesus Christus is die enigste een wat die bergrede kan vervul.

Indien ons Jesus Christus se dissipels wil wees, moet ons op ’n bonatuurlike wyse dissipels gemaak word. En so lank as wat ons ons nog vasberade daarop toespits om sy dissipels te wees en daardie doel bewustelik nastreef, kan ons verseker weet dat ons nie dissipels is nie. Jesus sê: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies … ” (Joh. 15:16). Dit is die manier waarop die genade van God begin werk. Dit is ’n verpligting waaraan ons nooit kan ontkom nie; ons kan ongehoorsaam wees daaraan, maar ons kan dit nooit self begin of bewerkstellig nie. Ons word na God toe getrek deur die werking van sy buitengewone genade en ons kan nooit werklik vasstel presies waar dit begin het nie. Hy bou nooit op enige van ons natuurlike eienskappe nie. God vra nie dat ons dinge moet doen wat vir ons op die natuurlike vlak maklik is nie. Hy vra ons slegs om dié dinge te doen waarvoor ons ten volle toegerus is deur sy genade, en dit is waar die kruis wat ons moet dra, altyd ter sprake kom.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.