Gedagte vir die dag: Verklaar oorlog teen kommer

 man_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Kan al julle bekommernisse ’n enkele sekonde tot julle lewe toevoeg? Natuurlik nie! En as kommer nie eers sulke klein dingetjies kan regkry nie, wat is die nut van kommer oor groter dinge? (Lukas 12:25-26)

Die Engelse woord “worry” kom van ’n ou Engelse woord wat “om te verwurg” beteken. Hoe dikwels voel ons dat ons nie kan asemhaal of reguit dink as ons bekommerd is nie? Ons hemelse Vader weet wat ons nodig het nog voordat ons Hom vra; daarom hoef ons nie bang te wees nie.

God is ’n gewer. Hy wil ons seën, en dit verskaf Hom genot en vreugde om dit te doen. As ons in God se koninkryk belê, sal ons nooit verloor nie. Dit sal jou niks baat om jou te kwel nie. Wat ons moet doen, is om hard te werk en die res aan die Here oor te laat. Hy is baie meer bevoeg as enigiemand anders om na ons geliefdes en die toekoms van ons besighede om te sien en ons te help sukses behaal. ’n Doktersvriend het vir my gesê dat baie van sy pasiënte aan psigosomatiese simptome ly. Dit is ’n siektetoestand wat veroorsaak word deur ’n mens se geestesingesteldheid. Met ander woorde, dít wat jy sê of dink, is wat met jou gebeur.

Party van ons is so negatief dat die duiwel niks werk het om te doen nie. Ons het al almal negatiewe mense teëgekom. As die son soggens opkom, sê hulle: “Hier kom droogte!” Teen die middag, wanneer die wolke saampak, sê hulle: “Hier kom ’n vloed!” ’n Persoon met ’n negatiewe lewensbeskouing sal nooit gelukkig wees nie en ’n kommerkous wat altyd kla, sal nooit suksesvol wees nie.

As ons ons kwel oor dinge wat nooit sal gebeur nie, steel dit al die vreugde uit ons harte. Filippense 4:6 sê: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.” Onthou, kommer gee aan ’n klein dingetjie ’n groot skaduwee. Hou op om jou te kwel en begin die Here vertrou – jy sal vind dat jou dae soveel beter verloop.

Liewe Here Jesus, in plaas daarvan om my aanhoudend te kwel oor dinge waaraan ek niks kan doen nie, help my om al my sorge aan U te gee. Ek weet dat U die beste plan vir my lewe het. In Jesus se Naam. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

S.Moller ·

Dit is seker een die wonderlikste seëninge van ‘n lewe saam met God, die vreesloosheid, die kommerloosheid in algehele vertroue op Sy wil en liefde.

John ·

Kommerloos is nie sinoniem met onverantwoordelikheid nie. Beplanning en wysheid vat hande. Josef het die Egiptenare gehelp om vir die maer jare graan te berg en sodoende sy volk se oorlewing help verseker. Goody-goody afleidings van die Woord sonder om breer te lees/leer oor hoe ‘n Christen moet leef is nie voldoende nie.

Connie ·

Soek eers die koninkryk van God en die res sal vir jou bygevoeg word. “Kingdom first”.

Gert ·

Ek het 7 maande terug my werk en alles wat ek besit het verloor.Elke dag is bitter moeilik ‘n geveg om my vertroue in die Vader te hou maar ek sal nie op gee nie.Ek weet dat dit wat gebeur met my tydelik is al wil die duiwel hê ek moet glo dat alles tot niet is .As ek terug kyk die afgelope paar maande weet ek nie hoe ek elke dag gemaak het tot en met vandag nie.Laat my net besef God is almagtig en sorg vir ons op maniere wat ver bo ons denke is .Dankie almagtige God. Prys die Here !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.