Gedagte vir die dag: Verknogtheid, verkramptheid

Stiltetyd-25-.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Lees Lukas 6:1-5

Toe sê ’n paar van die Fariseërs: “Waarom doen julle iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie?” Jesus antwoord hulle: “Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het … nie?” (Lukas 6:2-3)

Vir die Bybelleser lyk dit soms of Jesus opsetlik uitdagend was in sy “ongehoorsaamheid” aan die streng sabbatswette. Hy het immers talle mense op ’n sabbatdag genees, soos dit onder meer in Lukas 6:6-11, 13:10-16 en 14:1-6 vertel word.

Nou maak Jesus en sy volgelinge boonop kos op die sabbat bymekaar. Vanselfsprekend is die Fariseërs, kampioengelowiges, hieroor hewig ontsteld. Jesus wys hulle op hul groot held, Dawid, en sy “onwettige” optrede met die gewyde brode in die tempel (gaan lees gerus dié verhaal in 1 Samuel 21:1-6).

Dit was ’n lae hou. Nie net was Dawid ’n feitlik onaantasbare figuur in die volksgeskiedenis nie, maar Jesus leer ook hierdie godsdienskenners hoe om die verhalekloutjie by die teologiese oor te bring. Oftewel: Hoe om ’n mooi Bybelstorie in die lig van God se waarheid te interpreteer.

Sou hulle dit gesnap het? Want kyk, vir mense wat aan die godsdienswette verknog is, wat hul sekerheid oor God in etlike “bepalings en voorwaardes” vind, is daar weinig ruimte vir interpretasie.

Hulle ken bloot die letter van die wet en klou verbete daaraan vas.

Nou verstaan ons waarom Paulus, self eens uit daardie skool, later geskryf het: “Die letter maak dood, die Gees maak lewend” (2 Kor 3:6). Ons weet mos dat gelowiges in wie die Gees van Christus woon en werk, met oop oë en ore en ’n oop gemoed die Bybelse verhale moet lees. Gereed om verras te word, of bereid om minstens reggehelp te word. Of hoe?

Ag, Here, ek ken my verknogtheid aan my eie vaste oortuigings. Bevry my tot u waarheid!

Bron:
Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.