Gedagte vir die dag: Verkondig die Goeie Nuus

arms_uitgestrek_man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle het van Christus gehoor. Julle het tog aangaande Hom onderrig ontvang volgens die waarheid wat daar by Jesus is. Julle het tog in julle eenheidsband met Jesus die waarheid geleer, naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek. Bedrieglike begeertes laat hierdie mens te gronde gaan. (Efesiërs 4:21-22)

Ek is in 1979 gered en toe ek daardie dag by die huis kom, was ek heeltemal oorweldig deur wat gebeur het. Daardie oggend het ek my doelbewus aan Jesus toegewy. Ek het saam met my vrou, Jill, en my kinders vorentoe geloop in die kerk en Jesus Christus as my Here en Redder aanvaar.

Nadat ons tuisgekom het, het ’n man wat ek nog nooit voorheen ontmoet het nie, na my toe gekom en gesê hy was daardie oggend in die kerk en het gesien dat ek vorentoe gaan en die sondaarsgebed bid. Hy het my gevra of ek die gebed bedoel het. Ek het verdedigend opgetree en dadelik verklaar dat ek uiteraard elke woord bedoel het. Weer het hy my gevra of ek dit regtig bedoel het. Ek het weereens ja gesê. Hy het my toe uitgedaag om die eerste drie mense wat ek die volgende oggend teëkom te vertel wat ek gedoen het.

Die volgende oggend het ek langs my buurman in ’n bakkie gesit. Ek het ’n ontsaglike worstelstryd gevoer. Aan die een kant het die duiwel vir my gesê dat as ek iets sou sê, die man vir my sou lag. Aan die ander kant het die Here vir my gesê dat as ek nié oor Hom getuig nie, Hy ook nie oor my sou getuig nie. Uiteindelik het ek my buurman vertel wat ek gedoen het. Sy gesig het asvaal geword, maar hy het gesê selfs al was hy nie op daardie stadium self gereed daarvoor nie, was hy bly om my onthalwe. Nie lank daarna nie het hy my gebel en oor my geloof uitgevra. Later daardie dag het hy en sy hele gesin Jesus Christus in hul lewens ingenooi.

Ons moet begin getuig. Ons moet mense van ons geloof vertel, want dit versterk ons standpunt oor Christus. Dit is waaroor evangelisasie gaan. Dit is in wese een bedelaar wat vir ’n ander honger persoon vertel waar om brood te vind.

Liewe Here Jesus, gee my asseblief die moed om ander mense van my toewyding aan U te vertel en u lig en liefde met hulle te deel. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anja ·

Mens word beledig en gevloek as jy van die Here begin praat. Mense is openlik vyandig teenoor godsdiens. Al my vriende is nou doenig met die okkulte of vreemde gelowe.

Nic ·

En jy noem hulle vriende? Pasop, dis makliker om iemand na ander toe af te trek as wat dit is om een op te trek. gaan besin weer oor jou “vriende”. Miskien moet jy by ‘n ander vriendekring aansluit wat tyd het vir God en Sy gebod!

Anja ·

Dis mos nou duidelik nie meer my vriende nie want ek is ‘n Christen. Hulle wil nie meer my vriende wees nie. Daar is nie veel mense wat tyd het vir God en Sy gebod nie. Hoe kan ek die evangelie oordra as ek gevloek word? Mense wil dit nie hoor nie. Ek probeer op ander maniere.

Charles Thomas ·

Ons het twee CD’s opgeneem met boodskappe en gebede op. Ons het al n paar duisend daarvan uitgegee en het al uiteenlopende kommentaar daaroor terug gekry. Van ” dit het my gehelp om die Here te vind” tot ” dit is gemors” Ons sal egter aanhou daarmee maak nie saak wat die ongelowiges daarvan se nie. Ons is die saaiers maar die Here sal self die groeiwerk laat plaasvind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.