Jesus het hulle geantwoord: “Laat haar met rus! Waarom maak julle dit vir haar so moeilik? Sy het ’n weldaad aan My gedoen. Sy het haar allerbeste vir My gedoen. Sy het my liggaam vooruit gesalf vir my begrafnis.” (Markus 14:6, 8)
Enkele dae voor Jesus se kruisiging eet Hy een dag by Simon wat van sy melaatsheid genees is. Terwyl hulle aan tafel is, daag ʼn vrou daar op met ʼn fles (deesdae sou dit ʼn bottel wees) met baie duur nardusparfuum. Sy breek die fles en gooi die parfuum op Jesus se kop uit. ʼn Mens se heel eerste logiese reaksie sou wees: “Nou waarom dít? Watter vermorsing! Wat wil die arme skepsel sê?” Dit was toe inderdaad sommige se reaksie. Maar Jesus dink anders.
Jesus reken die vrou het ʼn goeie daad aan Hom gedoen. Sy het haar alles vir Hom gegee (wat sy kon, het sy gedoen), en sy het dit uit bewondering en liefde vir Hom gedoen. Maar wat sy nie geweet het nie, en wat inderwaarheid ʼn profetiese daad was, is die feit dat sy Jesus se liggaam vroegtydig vir sy begrafnis gesalf het.
ʼn Bos duur blomme vir iemand vir wie jy lief is, is nie verkwisting nie, dis bewondering en waardering en verering. En vir Jesus gee ʼn mens altyd jou allerbeste. Vir Hom was die vrou se skynbare verkwisting die laaste daad van verering voor sy dood.
Goeie more,
Baie dankie vir die kort teks versies wat julle elke dag vir my stuur, dit maak altyd sin.