Gedagte vir die dag: Verlaat jou gemaksone en vertrou Jesus

Matteus 14:28-29
Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” “Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom.

Tydens ‘n besoek aan Israel wys ons gids (nie ‘n Christen nie) vir ons ‘n aantal plat klippe in die vlak water aan die kant van die meer. “Sommige mense sê,” vertel hy ons,“ dat toe Jesus op die water geloop het, het Hy eintlik op klippe soos hierdie geloop.”

‘n Stelling wat maklik weerlê kan word. In Johannes 6:19 lees ons dat die dissipels sowat vyf of ses kilometer geroei het, toe hulle Jesus op die see tot naby die skuit sien loop het, en hulle het bang geword. Markus vertel ons dat teen die aand was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand (Markus 6:47).

Petrus en die ander dissipels was ervare vissermanne en dit sou hulle nie verbaas het as hulle iemand sien stap het op die klippe aan die kant van die meer nie, maar hulle was in die middel van die meer en die boot is deur die golwe geteister want die wind was van voor.

Skielik sien hulle Jesus op die water na hulle toe aangeloop kom. Hulle het groot geskrik en gedink dit was ‘n spook. “Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” “Kom!” sê Hy.

En Petrus het uit die skuit geklim (sy gemaksone) en begin om na Jesus toe te loop. Maar hy het begin sien wat rondom hom gebeur en hy het bang geword en begin sink. Hy het uitgeroep: “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en hulle het teruggeklim in die boot. Die wind het gaan lê. Die dissipels het besef dat Jesus waarlik die Seun van God is en hulle het voor Hom gekniel.

Ons uitdaging is om Jesus genoeg te vertrou om wanneer ons sy stem hoor, ons gemaksone te verlaat.

Gebed: Here Jesus, u beskerm almal wat op U vertrou. Gee ons die moed om soos Petrus ons gemaksone te verlaat wanneer ons u stem hoor sê: “Kom”. En wanneer dit moeilik gaan en ons moed verloor, Here, steek u hand uit en trek ons na U toe. Ons bid dit in u Naam. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.