Gedagte vir die dag: Van verslae tot die regte stories

mense_gelykenis2 vertel_pixabay_stiltetyd

Foto: pixabay.com

Jesus het altyd gelykenisse soos hierdie gebruik as Hy met die skare praat. Om die waarheid te sê, Hy het nooit met hulle gepraat sonder om gelykenisse te gebruik nie. (Matteus 13:34)

Ek het nog nooit gehoor dat ’n kindjie vir sy of haar ouers sê “vertel my ’n verslag” nie. Nie eens grootmense praat so nie. Tog is ons grootmens-wêreld verslag-gedrewe. As die meeste instellings net ’n verslag ter hand kan hê, is die Kaap Hollands. Maar dit is nie! Verslae verander nie noodwendig die wêreld nie; stories doen dit wel! Ek bedoel nou, die regte stories.

Juis om hierdie rede was Jesus ’n storieverteller by uitnemendheid. Sy verhale oor die koninkryk van God het die wêreld aanhoudend onderstebo gedraai. Hy het nuwe deure en vensters op God se goedheid voor diegene oopgemaak wat gehoor het wat Hy wou deel.

Lees asseblief weer Jesus se aangrypende stories. Hoor by Hom dat God soos die pa van die verlore seun is wat met oop arms op ons elkeen wag. Hoor by Hom dat net soos God vir die veld gras sorg, Hy ons ook sal versorg. Luister en leef.

Bron:
Op God se genadepad deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.