Gedagte vir die dag: Verlange na God

Springbokke-loop-op-die-vlaktes-van-Sossusvlei.jpg

Springbokke loop op die vlaktes van Sossusvlei Foto: Marianne Styan

Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God. (Ps 42:2-3)

Lees Psalm 42

Mense kan net drie dae sonder water klaarkom, maar 40 dae son der kos – dit is dus baie erger om sonder water as sonder kos te wees. Die psalmdigter vergelyk sy verlange na God in ’n tyd van swaarkry met die fisiese dors van ’n wildsbok. Dit is God self wat hierdie verlange om nader aan Hom te wil leef in ons hart plaas.

Die kerkvader Augustinus het by geleentheid geskryf: “Ek nooi U in my siel in, wat U voorberei om U te ontvang deur die verlange wat U daarin plaas.”

Wanneer ’n mens regtig naby aan God leef, kan jy nie sonder Hom klaarkom nie, verlang jy gedurig na sy teenwoordigheid in jou lewe. Dan is dit vir jou ’n vreugde om jou Bybel te bestudeer, om oor God te dink, met Hom te praat en van Hom te getuig. Dan is jy soos Petrus en Johannes wat ten spyte van die feit dat die Joodse Raad hulle verbied het om oor Jesus te praat, geantwoord het dat hulle God, eerder as mense, moet gehoorsaam (Hand 4:19). Wanneer jy in ’n noodsituasie beland, wil jy vir God by jou hê.

Bevredig vanjaar jou geestelike verlange na God deur elke dag digby Hom te lewe en sy Woord deel van jou lewe te maak.

Hemelse Vader, ek smag na u teenwoordigheid in my lewe soos ’n wildsbok na water dors. Dankie dat ek elke dag u nabyheid kan ervaar en my verhouding met U kan versterk. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.