Gedagte vir die dag: Verlore en gevind

Reenboog_natuur_uganda_Stiltetyd_Marco-Brits.jpeg

Foto: Apoka Lodge, Uganda (Marco Brits)

Ek, die Seun van die Mens, het gekom om wat verlore is, te soek en te red. (Lukas 19:10)

Vroeg een oggend toe ek gaan draf het, het ek ’n gans gesien wat alleen deur die lug vlieg. Ganse vlieg normaalweg nie alleen nie; hulle vlieg in swerms. Hierdie eensame gans het na sy vriende geroep en geroep. Ek het gesien hoedat hy reguit in een rigting vlieg, en dan draai en in ’n ander rigting begin vlieg. Hy was behoorlik verdwaal en my hart het uitgegaan na hom.

Wat van jou? Het jy verdwaal? Daar bestaan geen twyfel dat ons mekaar se vriendskap nodig het nie. Daar is nie so iets soos ’n enkel-Christen nie; daar bestaan nie alleenlopers in God se koninkryk nie. Het jy verdwaal? Jy het iemand nodig om vir jou die regte rigting aan te dui. Daardie persoon is Jesus Christus.

In Johannes 14:6 sê Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.” As jy vandag verlore is, moet jy weet dat die Here jou roep.

Hy is die goeie Herder. Lukas 15:1-7 sê dat die herder al sy skape sal laat staan om na die enkele verlore skaap te gaan soek, en dat hy sal juig wanneer hy daardie skaap gevind het. Jesus het vir die verlorenes gekom; Hy het vir mense soos ek en jy gekom.

Die digter Carol Wimmer het gesê: “Wanneer ek sê ‘ek is ’n Christen’, skree ek nie uit dat ek skoon lewe nie. Ek fluister dat ek verlore was, maar nou gevind en vergewe is. Wanneer ek sê ‘ek is ’n Christen’, sê ek dit nie met trots nie. Ek bely dat ek struikel en dat ek Christus nodig het as my gids.” Is dit nie pragtig nie?

Is jy ook soos die verlore gans wat om hulp roep? Weet net dat die Here jou hoor. Jy is dalk eensaam, jy gaan dalk deur ’n moeilike tyd en voel verlore, maar die Here sê: “Vra My, en Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel oor wat hier gaan gebeur, waarvan jy niks weet nie” (Jeremia 33:3). Skep moed, want die Here sal jou bystaan.

Dierbare Here, dankie dat U my herder is. Ek weet ek is sterk en veilig wanneer ek saam met U stap. As ek onseker is oor waarheen ek moet draai, sal ek na U uitroep, met die wete dat U my sal vind en die pad vir my sal wys. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.