“Ja,” het sy gesê, “die eer is weggevat uit Israel, want die ark van God is gevat”. (1 Samuel 4:22)
Dis die woorde van die skoondogter van Eli, die vrou van Pinehas, nadat ’n ramp die volk getref het toe hulle teen die Filistyne gaan veg en verloor het. Desperaat het die Israeliete, met Eli se balhorige seuns Hofni en Pinehas vooraan, die ark van die verbond uit die heilige plek gaan haal om in die gevegslaer van Israel te staan. Hulle het gereken die heilige simbool van God se Teenwoordigheid sou hulle help om die Filistyne te verslaan. Daarom het die troepe gejuig “dat die aarde weergalm het” (v. 5).
Hulle het egter die groot reël van respek vir God se heilige simbool oortree. Die ark van die verbond moes in die heilige plek bly tensy God anders beveel het. Dit moes met die grootste versigtigheid hanteer word, want heilige dinge en simbole kan ’n tweesnydende swaard word.
Die vyand het gehoor dat die ark daar is en dit het hulle juis aangespoor om dubbel so hard teen die Israeliete te veg en hulle te verslaan, ark en al. By oormaat van ramp vat hulle nog die ark ook en Eli sterf toe hy die nuus hoor. Sy skoondogter noem sy kleinseun Ikabod: “ … want die eer is weggevat uit Israel.”
So het die profesie van Samuel waar geword. Eerbied vir die Here en sy diens en alles wat daarmee gepaardgaan, is ’n vereiste van ’n heilige God. Hy is ons Vader, maar ’n vader vra ook respek vir wat hy sê en wat hy in liefde vra. In die geskiedenis is dikwels “gevaarlik” met heilige dinge omgegaan. In die naam van die Woord van God is oorloë verklaar en dwaalweë verkondig. Onder die kruis is brandstapels gebou. Dis tot oneer van die Christendom.
Ons moet versigtig wees in ons oordele en vol respek vir die Een wat ons dien, maar ook vol respek in ons aanbidding. En vol respek vir medesondaars wat by ons hulp soek.
Dankie hiervoor , wat ons as mens Nodig het , is respek vir God en ons Medemens .