Gedagte vir die dag: Versigtig met wat jy sê

Sonneblom_by_heuning_soet_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens. ( Spreuke 16:24)

Jakobus het ’n groot deel van sy brief aan die beheersing van die tong bestee. Hy het ons ernstig gewys op die slegte gevolge van woorde wat on­nadenkend uitgespreek word (lees Jakobus 3:1–12).

‘Dwaasheid is soos ’n vrou wat luidrugtig bly klets,’ het Salomo gesê, ‘sta­dig van begrip en sonder kennis van sake’ (Spr 9:13).

Die teenoorgestelde is ook waar. Iemand wat weet wat om te sê en sy tyd om te praat reg kies, is geseënd met wysheid en waardigheid wat mense ver­troos en verhef. Salomo, wat meer spreuke versamel en uitgedink het as wat vir ons nagelaat is, het dikwels na wyse woorde verwys: ‘Praat sonder om te dink, kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê’ (Spr 12:18). Daar is ’n tyd vir alles – ‘’n tyd om stil te bly, ’n tyd om te praat,’ het hy ook gesê (Pred 3:7). ‘Bekommernis druk ’n mens neer; ’n vriendelike woord vrolik hom op’ (Spr 12:25).

Kies jou tyd en woorde reg as jy iemand wil troos, prys of bestraf.

‘Wat julle sê,’ skryf Paulus in Kolossense 4:6, ‘moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.’ Woorde wat op so ’n manier troos en aanmoedig dat die per­soon wat dit hoor, daardeur uit sy mismoedigheid gelig word, is goud werd. Dit kan beteken dat ’n talentvolle kunstenaar of navorser nie moed verloor nie, dat hy afbrekende kritiek verwerk en nie sy kwaste of mikroskoop toesluit nie, maar ywerig voortwoeker en later werk van hoogstaande gehalte en kritieke belang vir die samelewing lewer. ‘’n Regverdige mens dink voor hy antwoord; goddelose mense sê net slegte dinge’ (Spr 15:28).

Ten slotte: ‘Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd’ (Spr 25:11).

Hemelvader, leer ons om ons woorde so te kies dat hulle vertroos, bemoedig en genees.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hendrik Havenga ·

Dis so waar mense moet twee keer dink voor hulle praat

ElgeraineR ·

Liewe Here plaas asb n wag voor my mond, sodat ek nie dalk iemand kan seermaak met my woorde nie

Amanda Van Vuuren ·

2 Julie,

Baie dankie! soveel makliker om te sien en te lees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.