Gedagte vir die dag: Verskillende uitgangspunte

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ’n houvas gee nie. (Efesiërs 4:26-27)

Van tyd tot tyd verloor gelowiges hulle humeur. Alhoewel daar dalk geen rede voor is nie en ons as Christene nie veronderstel is om só te wees nie, gebeur dit wel. Wanneer dit gebeur, is ons geneig om te dink, dis nou dit, ons het nou regtig drooggemaak. God laat egter alles ten goede saamwerk vir dié wat Hom liefhet en geroep is volgens sy doel vir hul lewe (Romeine 8:28).

As jy ’n ernstige argument met iemand gehad het, moet jy dit regstel en aanbeweeg, maar moenie veroordeel voel omdat jy jou humeur verloor het nie. Dit gebeur met ons almal. Dit het selfs met Paulus en Barnabas gebeur.

In Handelinge 15:39-40 lees ons: “Daar het toe kwade gevoelens tussen hulle ontstaan, en hulle het elkeen sy eie koers gegaan. Barnabas het vir Markus gevat en Siprus toe gevaar. Paulus het Silas gekies en hy het vertrek nadat hy deur die gelowiges aan die liefdevolle goedheid van die Here toevertrou is.”

Hulle was twee mans van God, reuse van die geloof, wat stry gekry het oor of hulle Johannes (wat Markus genoem is) met hulle moes saamneem of nie (Handelinge 13:36-41).

Ons moet probeer om nie van mekaar te verskil nie, want dit stel nie ’n goeie voorbeeld vir die wêreld nie, maar ons moet besef dat as dit wel gebeur, ons nie veroordeel word nie. God gebruik alle soorte mense in sy bediening. Ons kan dalk nie altyd van dieselfde mening wees nie, maar dit beteken nie dat iets vernietig sal word deur ’n geskil nie.

Soms laat ’n geskil ’n spesifieke bediening vermenigvuldig en ontwikkel. Ons hoef nie altyd met mekaar saam te stem nie en ons hoef nie veroordeel te voel elke keer wat ons ’n meningsverskil het nie. Ons moet net om verskoning vra en aanbeweeg.

Hemelse Vader, U weet dat ek soms kort van draad is, wat nie ’n goeie getuienis van my is nie. Help my asseblief om geduldiger te wees en om ander met respek te behandel, selfs al stem ek nie met hulle saam nie. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.