Gedagte vir die dag: Verskuif jou grense

boer-diversityreporter_com1.jpg

Foto: diversityreporter.com

Lees: Filippense 4:10-20

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Filippense 4:13)

Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is. (Filippense 4:13, Die Boodskap )

Ek het twee formidabele vriendinne. Die een het Grieks geleer sodat sy die Interliniêre Bybel wat in 2012 deur CUM uitgegee is, kon proeflees. By die bekendstelling van hierdie Bybel het prof. Jan van der Watt, wat spesiaal vir die geleentheid van Nederland gekom het, presies verduidelik hoe moeilik Grieks is. Ek het my man, wat ’n dominee was, dadelik in ’n ander lig gesien. Ek sou dit nooit regkry nie. Die ander vriendin het vir ’n paar jaar Italiaans geleer sodat sy oorsee kon gaan help by ’n kamp vir mense met gestremdhede – en dit terwyl sy self in ’n rystoel is.

Phillips Brooks skryf by geleentheid: “We never become truly spiritual by sitting down and wishing to become so. You must undertake something so great that you cannot accomplish it unaided.

Het jy al ooit besluit om die onmoontlike te probeer? Moet dit dan nie langer as vanjaar uitstel nie. Waag dit om jou grense te verskuif; om iets wat só groot is aan te pak dat jy dit net met God se krag sal kan regkry. Met God by jou sal jy in die nuwe jaar berge kan versit, dinge doen waarvan jy nooit voorheen eers sou kon droom nie en elkeen van jou doelwitte bereik. Al wat jy nodig het, is jou Kragbron wat heeljaar tot jou beskikking sal wees.

Here Jesus, ek weet dat U ook vir my ’n bron van krag wil wees; daarom wil ek dit vanjaar waag om die onmoontlike aan te pak en dit in u krag klaar te maak. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.