Gedagte vir die dag: Versluier

 landskap_mistig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Nou sien ons dinge net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons galshelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan. (1 Korintiërs 13:12)

Elke dag op pad werk toe sien ek die reuse daar lê: kolossaal, groot en onbeweegbaar. Rotsvas. Die Boland se berge. Dit strek van een punt hier naby tot daar ver waar dit grys en wasig raak.

Soms sien ek elke skeur en klip wanneer die son helder en vrolik skyn. Die groen dele is dan grásgroen, en die grys diep en donker. Die skaduwees is skerp omlyn.

Ander kere is die berge ’n massa groen en blou en grys, alles in mekaar geweef teen die dynserige agtergrond. Maar op ’n dag was die berge net weg. Ek kon my oë nie glo nie. In die plek van die berge het daar ’n wolkbank gelê, dig, klaarblyklik ondeurdringbaar. Al wat ek kon sien, was die wasige wit van dié groot wolk. Daar was ’n effense grys teen die kante.

As ek nie beter geweet het nie, sou ek nie kon sê dat daar ’n hele bergreeks agter daardie wolke gelê het nie. Is die lewe nie maar soos daardie wolke voor die berg nie? Die meeste van die tyd is die groot dinge vir ons weggesteek en dit is moeilik om alles uit te pluis. Paulus sê tereg dat ons nou maar nog gedeeltelik sien (vgl. 1 Kor 13:9), dat dit is soos om in ’n dowwe spieël te kyk en bloot ’n raaiselagtige beeld te sien (vgl. 1 Kor 13:12a).

Soms maak die lewe vir ons volledig sin, ons sien alles helder en duidelik. God se liefde is eg en oneindig, sy goedheid onbetwyfelbaar, Hy is alles vir my en ek weet dat Hy my nooit aan my eie lot sal oorlaat nie. Hy is betroubaar en goed en vol liefde.

Dan kom die wolke, en ek wonder: Is God se liefde regtig ook vir mý bedoel? Is Hy regtig goed? Is Hy nie dalk teen my gekant nie? Of het Hy dalk reeds tou opgegooi en my alleen gelaat?

In sulke tye vol twyfel is dit goed om te onthou dat ons maar net gedeeltelik sien. Dat die waarheid van God se woord, die waarhede oor sy liefde en omgee en nabyheid so vas soos ’n berg staan. Die lewe probeer om ons te kul en trek ’n sluier voor die berg, en ons begin wonder …

Daarom moet ons die helder dae onthou, dit neerskryf op die tafel van ons hart. En wanneer die wolke kom, sal ons onthou om ánderkant die wolk te kyk, al is dit net met ons geloofsoë.

God se liefde en trou en sorg is net so werklik op ’n bewolkte dag as wat dit is op ’n dag wanneer die son helder vir ons skyn.

Here, dankie dat ons op u liefde, omgee en standvastigheid kan vertrou. Dankie dat ons kan weet dis altyd daar, soos U altyd daar is.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elke van Bloem ·

Hierdie Julie sal dit 5 jaar wees sedert ons dogtertjie se dood. Ons bly hartseer en ons sal altyd na haar verlang. Maar wat my die meeste byval van hierdie “reis”, is die feit dat ons kon vashou aan ons Here omdat ons ‘n lewende verhouding met Hom gehad het…. Voor die trauma en voor haar dood. Selfs toe alles soos ‘ n miskombers alles versluier het, het ons geweet ons is nie alleen nie. Ons was rustig in die wete dat ons nie alles hoef te weet of te verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.