Gedagte vir die dag: Versoekings sal daar wees

sonsondergang_Nathan_Steyn_NZealand.jpg

Foto: Nathan Steyn

Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink. Die doderyk en die onderaardse diepte kry nie genoeg aan dooies nie; ’n mens se oë kry nie genoeg van begeer nie. (Spreuke 27:19-20)

Ek het ’n verhaal gelees wat vertel van ’n monnik wie se grootste begeerte was om rein voor God te lewe. Hy het sy uiterste bes probeer om al wat ’n versoeking is te weerstaan. Hy het selfs so ver gegaan om in ’n dorre woestyn te gaan bly om daarvan te ontvlug. Selfs daar het dit hom geteister. Toe besluit hy maar om alleen in ’n tronksel te gaan woon om op dié manier versoekings te ontduik. Terwyl hy sy skoene vasgemaak het om die lang pad aan te pak het hy nog ʼn monnik in die woestyn gewaar wat ook besig was om sy skoene vas te maak. Uit nuuskierigheid vra hy die man waar hy vandaan kom, toe antwoord die monnik: “Ek is jou ander self. Indien jy oor my swakhede die woestyn wil verlaat, moet jy goed weet ek gaan saam met jou waar jy ook al gaan.”

Versoekings duik dag vir dag in ons lewe op. Dit is eie aan die gebroke wêreld waarin ons leef, selfs nie Christene spring dit vry nie. Ons versoekings verskil hoogs waarskynlik nie veel van mekaar nie. Ongelukkig is dit deel van ons menslike natuur om die verkeerde te wil kies. God kan ons egter help om dit te weerstaan. In en deur sy krag kan ons ’n lewe van oorwinning lei. Hy gee ons altyd uitkoms, daardie oomblik wanneer ons nog “nee” kan sê. Ons moet dit net kies.

As jy weer in die versoeking kom om aan een of ander vernietigende gewoonte toe te gee wat jy in jou hart weet jou laat struikel of watter sondes jy troetel, gryp na God. God kan jou help om selfdissipline toe te pas en in beheer van jou denke te kom sodat jy kan kies om versoekings te weerstaan.

Die teoloog Martin Luther het gesê: “Jy kan nie verhoed dat voëls oor jou kop vlieg nie, maar jy kan verhoed dat hulle in jou hare nes maak.” Ralph Waldo Emerson het gesê: “Roep na God maar roei weg van die rotse af.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.