Gedagte vir die dag: Versoening en geregtigheid

Wolke_pad_be…t_Dykema.JPG

Foto: Reint Dykema

Lees: Jesaja 59:9-19

Daar is geen sprake van reg en geregtigheid vir ons nie. Ons wag op ’n straaltjie lig, maar ons pad bly pikdonker. Die Here het dit gesien en dit is verkeerd in sy oë dat daar geen reg is nie. Daarom tree Hy self op en laat Hy self sy geregtigheid geld. Hy trek geregtigheid aan soos ’n pantser en redding is die helm op sy kop. (Jesaja 59:9, 15-17)

In Suid-Afrika het ons nog nooit versoening so broodnodig gehad soos juis nou nie. As ons na die geskiedenis van die afgelope paar jaar kyk, het die onrus, ontevredenheid, haat en onvergewensgesindheid ’n hoogtepunt bereik. Dit kom tot uiting in plaasmoorde, plaasopstande en geweld in verskillende dele van ons land. Suid-Afrikaners vrees wat vorentoe kan gebeur.

Tog kán dit verander. Versoening gaan egter altyd gepaard met geregtigheid. Voordat ons ware versoening in Suid-Afrika sal kan beleef moet geregtigheid herstel word. “Versoening en geregtigheid laat geen ruimte oor vir onbetrokkenheid nie,” sê ’n besoekende leraar wat een Versoeningsdag in ons gemeente gepreek het. “In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid ’n Spruit van geregtigheid laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land. In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon; en dit sal die naam daarvan wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID” beloof God aan sy volk (Jeremia 33:15-16, Bybel in Afrikaans 1933/1953). Dit is God se wil dat die mense van ons land met mekaar en met Hom versoen sal word, maar dit kan net gebeur as elkeen van ons gewillig is om daardie geregtigheid uit te leef.

Here Jesus, U is steeds ons geregtigheid. Leer ons om daardie geregtigheid in ons land uit te leef op alle vlakke en teenoor alle mense. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.