Gedagte vir die dag: Versoening

houtkruis

Argieffoto

Lees 1 Johannes 2:1-2

Hy is die versoening vir ons sondes … ook vir dié van die hele wêreld (1 Johannes 2:2)

Dit is seker hoekom God Gód is. Dié dat Hy so ver sien, en so naby. So wyd kyk, en so intiem. Dat Hy so insluitend is. Almal en alles is in sy genadevisier. Ook ons wat so vermoeid en belas sukkel om op sy spoor te bly.

Want as daar een ding is waarvan ons lewe, is dit dat Hy die versoening vir ons sonde is. Dink net: Hy vra nie van ons om op die een of ander manier boete te doen nie. Geen sprake van offers bring nie. Nie ’n woord oor iets soos: Doen jy jou deel (sê jy is bitter, bitter jammer), dan doen Ek my deel (goed, nou is jy vergewe) nie.

Nee, sê Johannes. Jesus Christus, die regverdige, Hý is die boete. Hy is die offer. Die deel wat Hy gedoen het, is die enigste deel wat daar te doen is. Dít is die evangelie. ’n Blye, blye boodskap vir almal wat met sonde sukkel en daarom bewerig lees oor Johannes se dringende oproep dat ons nie moet sondig nie.

Maar dit is nie al nie, sê Johannes. Hierdie Jesus Christus is ook die versoening vir die wêreld se sondes. Hy kan dit nie verduur dat sy wêreld se mense in sondige onversoendheid met God en met mekaar lewe nie, en daarom het Hy daarvoor met sy lewe betaal. Moet tog nie sondig nie, pleit Johannes. Lewe vanuit die versoening, soebat die evangelie. Verdryf die boosheid in julle en in die wêreld waarin julle lewe. Doen dit met die versoening waarvan julle leef. Wórd die goeie nuus.

Jesus, ek loof U vir wat U doen en vir wie U is. Maak my soos U – ’n versoener.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.