Gedagte vir die dag: Versorg die armes

 hand-uithou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Al wat hulle gevra het, was dat ons aan die armes moes dink, en juis dit het ek ywerig gedoen. (Galasiërs 2:10)

Paulus vertrek op sy sendingreise na die Romeinse en Griekse wêreld. Die Grieke en Romeine se gode leer hulle onderdane nie dat jy moet omgee vir mense wat swaarkry nie. Armes word dus nie in hierdie wêreld versorg nie.

Paulus verkondig ‘n skokkende evangelie. Hierdie evangelie verwag van gelowiges om vir die behoeftiges te sorg. Vir die Grieke en Romeine is dit baie vreemd. Hulle ken dit nie, maar snap dit en gryp dit aan wanneer hulle tot bekering kom. Die nie-Joodse Christene in Galasië spaar die eerste dag van die werkweek se geld en skenk dit aan die armes in Jerusalem. Die Masedoniërs, wat self arm mense is, is ook bereid om dit wat hulle het te deel.

As jy Jesus volg, doen jy dit op sy voorwaardes. Jy kan nie glo en maak soos jy wil nie. As Christus se hart in jou hart klop, is jy mededeelsaam. Dan het jy ‘n oop hand sodat almal kan eet en leef. Ons moet Christus se voorbeeld navolg. Ons moet ons tyd, geld, besittings en lewe met ander deel. In 2 Korintiërs 9:6-7 lees ons wie karig saai, sal karig oes. In dieselfde gedeelte hoor ons dat God die blymoedige gewer liefhet. God leer ons hoe meer ons gee, hoe meer sal ons ontvang.

God vra en verwag van ons om met behoeftiges te deel. Om te gee aan iemand wat niks verwag nie, is oorweldigend. Die dankbaarheid oorspoel jou en jy ervaar die liefde van Christus deur hierdie persoon. As jy liefde deur geld en besittings gee, word jy ‘n geestelike miljoenêr. Hierdie gevoel is onbeskryflik en kom direk van die Here af. Dit is goddelike Christusvreugde. Maak jou hart, hand en beursie oop sodat jy ook van vandag af hierdie vreugde kan beleef en ervaar.

Here, wees U my bankbestuurder. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Paulus het altyd ywerig gekollekteer vir die armes en gemeentes in hongersnood. Nooit vir die kerk en sy amptenare nie. Hy het nie eens n salaris getrek nie.

Anoniem ·

Hierdie is iets waarmee ek persoonlik baie worstel. Het al soveel kere geval vir bedelaars se trane en jokstories, dat ek nie meer wíl gee nie … want ek weet nie meer wie en wat om te glo nie. Is dit verkeerd van my om dan liewer ‘n groter bydrae te gee sodat die gemeente dit na behoefde kan uitdeel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.