Gedagte vir die dag:  Verstaan jy?

Foto: pixabay.com

Lees Handelinge 10:34-43

“Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal.” (Handelinge 10:36)

Petrus sê hier hy verstaan nou eers hoe groot God se familie is. Dit is nadat die Here hom iets soos ’n groot doek laat sien het wat uit die hemel neergelaat word, en hom ’n stem laat hoor het wat sê hy moet die diere in daardie hemelse mandjie slag en eet. Waarop hy, hierdie Joodse man, mos geantwoord het dat hy nog nooit in sy lewe iets onreins geëet het nie. Waarop die stem – die Stém! – aan hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie” (Hand 10:15). Eers nóú verstaan hy, sê Petrus. En nadat ’n mens jou kop geskud het oor sulke trae begrip, verwonder jy jou opnuut oor die helder manier waarop hierdie Petrus sedertdien die evangelie aan dese en gene verkondig. Jood ofte nie, almal hoor duidelik dat Jesus hulle almal se Here is.

Hoe dan anders? Jesus het dan almal by Hom laat welkom voel. Hy het saam met enigeen geëet. Vra maar die “tollenaars en sondaars” van Lukas 15:1-2. Vra Saggeus (vgl. Luk 19:5). Vra die voor- aanstaande Fariseër (vgl. Luk 14:1).

Vra tog ook daardie volgelinge saam met wie Jesus ná sy opstanding geëet en gedrink het (vgl. v. 41). Dit is hulle wat jou sal sê Jesus is inderdaad hul almal se Here, ten spyte van hul soms gure geskiedenis en dikwels bedenklike keuses.

En jy met die lang storie wat nie altyd ewe mooi is nie? Jy met die moedswilligheid en stiksienigheid en doodgewone onbetroubaarheid? Verstaan jy dat Hy die Here-sonder-voorwaardes is, die Here-van-almal?

Op hierdie Paassondag, gelowiges se vernaamste feesdag, is dít jou lewensvraag: Begryp jý dit?

Ek verstaan min van U, Here. Ek weet wel dat U my liefhet. Dit is vir my genoeg.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here met my menslike verstand kan ek die wonder van U liefde nie verstaan nie ….ek gryp U genade aan dit is vir my genoeg….U Naam Here ter ere

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.