Gedagte vir die dag: Vertel die goeie nuus oral

gebed-bybel-vrou-landerye-stiltetyd

Foto: Allen Taylor/Unsplash.com

Julle het mense geword wat ons voorbeeld – en ook die Here s’n – volg, toe julle onder baie moeilike omstandighede die woord aangeneem het met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom. Óral het julle geloof in God bekend geword! (1 Tessalonisense 1:6, 8)

Die Tessalonisense se harte het seker warm geklop toe hulle Paulus se gebed vir hulle hoor. Dit het so diep uit sy hart gekom, was so eg, en so vol dankbaarheid vir hulle vreugde ten spyte van baie probleme. Hierdie geestelike kinders van Paulus het die Here aangeneem te midde van hewige vervolging in die heidense stad Tessalonika – ’n stad wat stewig gevestig was in die praktyke van afgodsdiens. Hierdie mense het Paulus verwelkom en die evangelieboodskap wat hy verkondig het met vreugde aanvaar.

Maar hulle was nie net seker van hulle verlossing nie; hulle het ’n sterk begeerte ontwikkel om almal te vertel van hulle nuutgevonde geloof in God. Maar dit het hulle iets gekos. Hulle bekering uit die heidendom tot die Christelike geloof het “onder baie moeilike omstandighede” plaasgevind. Dit verwys waarskynlik na die een of ander vorm van vervolging. Dit het egter nie hierdie gelowiges gekeer nie. Hulle geloof was so sterk en hulle vreugde in die evangelie so groot dat hulle ten spyte van lyding die Goeie Nuus van die geloof oral uitgedra het.

Die Christelike geloof behoort mense met soveel vreugde te vul dat hulle nie anders kan as om oral waar hulle gaan daaroor te praat nie. Hulle geloof behoort vir almal wat hulle ontmoet soos geurige parfuum te wees. Wat van jou? Het jou geloof vir jou ware vreugde gebring? En is jou lewe nou tot vreugde vir ander omdat jy in Christus ’n nuwe mens geword het?”

Waar en hoe kan jy vandag die Goeie Nuus oordra aan ander?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

Ons moet Evangelie verkondig nie net duer die spreek van die Woord nie, tesame daarmee moet ons leefwyse ook ‘n vorm van woordverkondiging wees, sodat die manier waarvolgens ons leef mense na die Koninkryk van die Here toe aantrek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.