Gedagte vir die dag: Vertel van God se wonders

man-with-open-arms-705x335.jpgLees: Psalm 26

Ek laat my deur u liefde lei en ek lewe deur u trou. As ’n onskuldige, Here, was ek my hande en draai ek na u altaar toe om my loflied te sing en van al u wonders te vertel. (Psalm 26:3, 6-7)

’n Paar jaar gelede het my man vir my twee wonders gekoop by Somerset-Wes se Kersmark: Twee vetplantjies met fyn geel en ligroos blommetjies daaraan. Ek het ook een Kersfees vir my ma ’n bloedrooi leeubekkie daar gekry. Sy kon nie uitgepraat raak oor hoeveel plesier dit haar gegee het nie. Dit het op Kersdag oopgegaan en daarna het dit nóg twee maal in Januarie geblom.

Hier in ons veiligheidskompleks tel ’n mens sommer wonders op. Volmaakte fyn tarentaalveertjies – elkeen met ’n ander patroon – dennebolle vol dennepitjies wat ek my verwonderde kleinkinders leer uitkap en eet het, net soos ek self 60 jaar gelede in ’n dennebos teen Pakhuispas naby Clanwilliam gedoen het.

As jy mooi om jou kyk, gaan jy ontdek dat daar wonders in alledaagse dinge skuil. Maak soos die psalmdigter, sing vir God ’n loflied oor al sy wonders. Verwondering is aansteeklik. Dis vir my ’n elkedagse vreugde wanneer ons sewejarige kleindogter vir my tydens ons staptogte nou begin om vir mý die wonders langs die pad uit te wys. Sy het ’n “feetjietuin” (die eienaars van die spesifieke huis is geesdriftige tuiniers en daar is altyd ’n oorvloed blomme) waar sy lank stilstaan en elke blom vir my wys. Sy maak ook graag helderkleurige herfsblare bymekaar wat sy sorgvuldig nateken. Sorg dat jou eie kleinkinders nooit die wonders om hulle sal miskyk nie!

Here, hoe groot is U nie! Ek loof U vir elke wonder wat ek daagliks in die natuur ontdek. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ansie Geldenhuys ·

Dit is aandoenlik om die moeder-dogter wat amper verdrink het , te lees. Groot is die Goeie Vader in sy voorsiening. Ons prys Sy Naam!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.