Gedagte vir die dag: Vertel wat God gedoen het

ATTACHMENT DETAILS vrou_prys-God_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek … alleen omdat hulle glo. (Romeine 1:16-17)

Iemand het eenkeer gesê: “Soos ’n vuur nie anders kan as om te brand nie, kan gelowiges nie anders as om te getuig nie.” As jy die Here ken, ontstaan daar ʼn begeerte in jou om ander van Hom te vertel en wat Hy in jou lewe gedoen het. Paulus sê omdat hy self God se genade ontvang het, kan hy nie anders as om dit met ander te deel nie. Heel dikwels weerhou ons swakheid en teruggetrokkenheid ons daarvan om die evangelie met ander te deel.

Skep moed, want selfs Paulus moes soms moeilike grense oorsteek om die evangelie te verkondig. In die eerste-eeuse samelewings was daar skerp standsverskille, waar die “beskaafde” (Grieke) op die “onbeskaafdes” (nie-Grieke) neergesien het. Daarom was dit in sekere gevalle vir Paulus moeilik om die boodskap van God se verlossing aan almal oor te dra, want daar is op hom neergesien.

Paulus het egter onverskrokke en skaamteloos alle grense oorgesteek om die blye boodskap met mense te deel. Hy sê: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo …”

Vra God om jou te gebruik waar en hoe Hy wil en wees dan gereed om te getuig tydens geleenthede wat God jou bied. Vertel vir ander wat God vir jou gedoen het, nie op ’n hoogheilige wyse nie, maar op ’n opregte en nederige manier. Soms dink ons om die evangelie te verkondig beteken om soos ’n wafferse TV-evangelis vir mense te preek. Nee, die Here gebruik elke mens se talente op die manier wat Hy wil.

Vra die Here om jou te help om na ander uit te reik op die manier wat Hy goeddink. Vra God sommer nou om vir jou geleenthede te gee waar jy die blydskap van God se genade kan oordra. Wanneer ’n mens na ander uitreik, maak jy ’n verskil in hierdie gebroke wêreld, dit verander jou lewe onherroeplik.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.