Gedagte vir die dag: Vertrou God en nie mense nie

kruis (Medium)Psalm 146:2,3 – Ek wil die Here met alles in my prys. Vol opgewondenheid wil ek vir my God liedere sing so lank as wat ek leef. Moenie op mense staatmaak nie. Jy kan dalk dink dat mense in hoë posisies jou sal kan help. Moenie glo nie. Mense bly maar net mense.

Dit is darem baie lekker om kontakte in die lewe te hê. Daar is mense wat vir groot maatskappye werk wat al die regte mense ken. Hulle kry kaartjies na groot sportbyeenkomste. Hulle kry groot afslag op duur items. Hulle kry paspoorte en lisensiedokumente sonder om in ʼn lang ry te gaan staan. Om die regte mense te ken het beslis sy voordele in die lewe. Daar gaan egter ʼn tyd in jou lewe kom wat jy baie bewus gaan wees daarvan dat al jou wêreldse kontakte en belangrike mense wat jy ken, jou niks in die sak gaan bring nie. Daar is doodgewoon sekere besluite wat jy dalk moet neem, of ʼn emosionele krisis wat ontstaan waaraan geen mens iets kan doen nie. Geen kontak of verhouding met iemand in ʼn hoë posisie kan jou nou help nie. Dit is dan wat ʼn mens die waarde van die lewende verhouding met Jesus Christus besef. Dit is dan wat jy kan weet jy het vrye toegang tot die hoogste kontak en hoogste posisie wat daar is: God is jou hemelse Vader. Tot Hom kan jy uitroep: Abba Vader! Hy is jou Vader en jy is sy kind. Hy luister graag en Hy help graag. Daarom, hou op om op mense staat te maak en vertrou God vir elke detail van jou lewe.

Hy wat op homself vertrou, is verlore. Hy wat op God vertrou, is tot alles in staat. – Alphonsus Liguori

Gebed: Here, dankie dat ek nie op mense hoef te vertrou nie. U is my hemelse Vader en ek vertrou U met my hele lewe. Dankie dat ek op U kan staatmaak.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.