Gedagte vir die dag: Vertroue

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou. (2 Tim 1:12)

Dit lyk asof Timoteus se ywer besig is om af te koel. Hy is nie meer so entoesiasties oor sy evangelieverkondiging soos aan die begin nie. In sy brief spoor Paulus hom aan om die gawes wat hy van God ontvang het weer te ontgin en om sy deel van die swaarkry met die krag wat God gee te verwerk.

Paulus skryf dié brief terwyl hy in die tronk is, maar ten spyte van die swaar wat hý moet verduur, weet hy op wie hy vertrou, en is hy daarvan oortuig dat God magtig is om vir hom te sorg tot by Jesus se wederkoms.

God wil hê dat jy Hom te alle tye sal vertrou en jou hele lewe aan Hom sal oorlaat met die seker wete dat Hy jou sal onderneem. Vertroue in God is ’n manier van lewe. En niemand wat voluit op God vertrou het, is nog ooit teleurgestel nie. Indien jy bereid is om jou vertroue aan God vas te knoop, kan jy die mooi belofte in Psalm 37:3-5 jou eie maak: “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”  Hemelse Vader, ek loof U dat die Een is op wie ek my lewe lank kan vertrou. Ek wil nou u belofte my eie maak.

Dankie dat U my hartsbegeertes sal waar maak en vir my sal sorg. Amen

Lees 2 Timoteus 1:6-14

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.