Gedagte vir die dag:  Vertroue en eise

mense_stap_strand_skulpe_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Lees Lukas 12:41-48

“… van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word” (Lukas 12:48)

Hier is weer een van die Jesusstories wat ook sy dissipels in die war het. Petrus vra glad: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons bedoel of vir almal?” (v. 41). Jesus antwoord hom nie reguit nie; Hy verklaar eerder die gelykenis.

Hierdie verduideliking slaan ons almal op die krop van die maag. Óns kan dus vir Petrus antwoord: Dit is vir al Jesus se volgelinge deur die eeue. Hier leer ons dat “roeping” nie uitsluitlik rym met “beroepskeuse” nie; daar is heeltemal te veel lewe in daardie r-woord. Heeltemal te veel verantwoordelikheid. Want jy kan dalk wegkom met halfhartigheid by jou werk; jy sal nie ongeskonde daarvan afkom as jy afskeep in God se koninkryk nie. Jy kan straks ongestraf knoei op kantoor; jy loop jou trompop in God vas as jy in sy wêreld droogmaak.

Nee, verstaan reg: Jou beroep verloop nie buite God se blik nie. Inteendeel: Jou broodwinplek is sy spesiale gawe vir jou. Dit is ’n belangrike deel van jou roepingsvervulling. Maar sy oë kyk ook verder – na die plekke waar jy speel en lag, waar jy leef en kuier. Daar waar jy met al sy wêreld se mense omgaan.

Weet jy dat jy juis dáár God se gesant is? Dat hierdie opdrag nie ruimtewandelings van jou sal vra nie; bloot die versorging van die mense wat saam met jou die stof van hierdie aarde moet trotseer?

Weet net: Hoe groter die kring, hoe meer die verantwoordelikheid. Wanneer die Here jou met seëninge oorlaai, en jy hulle met verwondering een vir een tel, word jy sonder meer geroep om oor elke enkele een verantwoording te doen.

Ek weet dié storie is ook myne, Here. Én die waarskuwing. Leer my elke dag ook oor vertroue en verantwoordelikhede.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.