Gedagte vir die dag: Vervang jou vrese met geloof

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

Lees: 2 Timoteus 1:5-10

Ek dink ook aan jou opregte geloof. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. (2 Timoteus 1:5, 7)

Ons het ’n ruk gelede ’n e-pos ontvang waarin daar gevra word dat elke Christen in ons land saans om 21:00 net ’n paar minute vir ons landsituasie bid. In die tyd waarin ons leef, lees ’n mens elke dag in die koerante van soveel moorde, bedrog, aanvalle en ongelukke dat veral ouer mense bang is om hoegenaamd saans uit die huis te gaan. God verseker ons egter op verskillende plekke in die Bybel dat dit nie nódig is om so vreesbevange deur die lewe te gaan nie; dat al jou vrese hokgeslaan behoort te word deur God se teenwoordigheid in jou lewe.

Miskien weet jy al hier aan die begin van die jaar reeds van dinge waarvoor jy bang is; miskien is jy siek, het jy probleme met jou kinders, kom jy nie met jou begroting uit nie. Jy kan nie langer toelaat dat jou vrees jou uitsig op God versper en jou laat twyfel aan sy almag nie. Gaan gooi daardie vrese gerus na God se kant toe: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle,” skryf Petrus (1 Petrus 5:7). Ook die psalmdigter getuig: “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ’n mens aan my doen?” (Psalm 118:6). Gaan die nuwe jaar met vertroue in en sien uit na die uitdagings wat voor jou lê. Jy het immers God se krag, liefde en selfbeheer sing elke dag tot jou beskikking!

Vader, ek bring nou elkeen van my vrese na U toe. Ontlont hulle asseblief en gee my u krag, liefde en selfbeheersing. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Muis ·

Deur God ons Vader hoef ons niks te vrees niekom Loof en Prys die Heer want Hy stap saam met jou!!! AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.