Vervolgde Christen-kinders se grootste Kersfeeswens

Fasil en Ezana (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Kinders is onder die kwesbaarste vervolgde Christene en word dikwels verskriklike gevolge in die gesig gestaar weens hul gesin se besluit om Jesus te volg. Kinders reg oor die wêreld word van hul basiese regte ontneem omdat hulle gelowiges is. Vervolging het ʼn impak op hul toegang tot onderrig en hul vermoë om veilig in hul gemeenskappe te bly.

Taktieke soos ʼn geboelie, fisiese aanvalle, isolasie en die weerhouding van ʼn opvoeding word algemeen deur vervolgers wêreldwyd gebruik. Dit laat selfs die jongste kinders alleen, vergete en onveilig voel – en dit plaas die toekoms van die kerk in gevaar in die moeilikste plekke om Jesus te volg. Al wat hulle dus vir Kersfees wil hê, is die geskenk van ʼn veilige kinderlewe.

Ezana* en Fasil*, ʼn tweeling van Ethiopië, is onder die talle kwesbare kinders in dié Afrikaland wat vervolging eerstehands ervaar. Hulle oë blink van vreugde as hulle dink aan die komende Kersseisoen en die speletjies, heerlike kos, Kersliedere en gewoel by hulle huis met mense wat soontoe kom om meer oor Jesus te hoor. Maar ondanks hulle opgewondenheid, is die grootste Kersgeskenk waarna hulle smag egter veilige kinderjare.

Geteiken deur ekstremiste

In die suidelike Ethiopiese dorp waar die tweeling bly, word evangelistiese Christene meedoënloos geteiken. Die kerk word dikwels met klippe bestook terwyl gelowiges besig is om binne saam te bid. In een gruwelike voorval het Moslem-ekstremiste ʼn groep Christen-vroue geteiken terwyl hulle besig was om te evangeliseer, hulle op die grond rondgesleep en op hulle urineer.

Pastoor Yohannes*, wat die plaaslike kerk lei, sê: “Uit die ekstremiste se oogpunt is ʼn Christen so goed soos ʼn lyk. Dit verg moed om Jesus in hierdie omstandighede te volg, en dis nog moeiliker as jou kinders in gevaar gestel word.”

Vervolging deur onderwysers

Ezana en Fasil se ouers dien die Here toegewyd, maar hulle geloof word gedurig deur vervolging beproef. Dit vul hulle met droefheid dat hul seuns weens hul geloof moet ly.

“Hoewel ons kinders onder die slimste leerlinge in die skool was, het die onderwysers geweier om hulle die punte te gee wat hulle verdien. Hulle toetspunte is verlaag, maar ons kon dit nie bekostig om hulle na ʼn ander skool te stuur nie. Sonder ʼn opvoeding was daar min hoop vir die tweeling se toekoms. En sonder veiligheid was hulle voortdurend in gevaar,” vertel hulle pa, Ermias*.

Oorbruggingsprojek bring nuwe hoop

Ermias lees die Kersverhaal vir sy tweelingseuns, Fasil en Ezana (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Danksy ʼn oorbruggingsprojek van Geopende Deure is ʼn nuwe laerskool op die kerkgronde oopgemaak. Hierdie skool verskaf nie net ʼn veilige plek vir Christen-kinders nie, maar aanvaar ook kinders van ander gelowe.

“Mense hou daarvan dat ons gratis onderrig aan armes bied,” sê pastoor Yohannes. “Die gesinne wat voorheen die kerk met klippe bestook het, stuur nou hulle kinders na ons skool.”

Sedert die tweeling na dié skool oorgeplaas is, floreer hulle akademies, geestelik en emosioneel in die klas. Hulle sê: “Ons leer nou baie in die nuwe skool en geniet dit vreeslik om hier te wees.”

Ezana en Fasil gaan egter binnekort hul laerskoolloopbaan voltooi, en hulle ouers weet nie wat die toekoms inhou nie. “Aangesien hul huidige skool slegs ʼn laerskool is, moet hulle dan weer teruggaan na ʼn ander skool en aan die gepaardgaande risiko’s blootgestel word,” sê Ermias. “Ek wens my kinders kon in hul huidige skool met hul hoërskoolonderrig voortgaan. Hulle is die volgende generasie wat die Evangelie moet versprei. Hulle moet die Here se werk voortsit wanneer ons nie meer daar is nie, wat beteken dat hulle die hoop vir die kerk is.”

Wat kan jy doen?

Jy kan vandag ʼn geskenk gee om vervolgde kinders te ondersteun. ʼn Geskenk van so min as R180 kan help om hierdie kleintjies te ondersteun terwyl hulle vir Jesus opstaan in die gevaarlikste plekke op aarde.

Klik hier om deel te word van Geopende Deure se “Children at Christmas”-veldtog en vervolgde kinders te ondersteun. Maak hierdie Kersfees ʼn verskil in hul lewens met die geskenk van ʼn beter toekoms en ʼn veiliger kinderlewe!

*Name verander om identiteite te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.