Gedagte vir die dag: Vervolgde getuies

Pad_vurk_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Was daar ooit ’n profeet wat nie deur  julle voorvaders vervolg is nie? (Handelinge 7:52)

Dit was juis een van die eerste mense wat hande opgelê is: die diaken Stefanus, wat vir die volgende – en hierdie keer tragiese – rondte met die hoëpriester en die Joodse Raad sorg.

Aanvanklik luister hulle belangstellend na wat Stefanus sê. Soos Petrus gaan haal hy sy bewyse uit die vroegste geskiedenis van Israel. Abraham, Isak, Jakob, Moses. Hy wys hulle op die ongehoorsaamheid van die volk toe Moses sy rug gedraai het (v. 39). Hy wys hulle op die vaders se aanvanklike onwilligheid om Moses te volg (v. 35). Hy wys hulle op Dawid wat vir die Here ’n huis wou bou, want God was vir hom “goed” (v. 46). En hy wys hulle op die profete, die een na die ander, wat God gestuur het om met hulle te praat. En dan kom die verdoemende vraag aan die geleerdes wat hulle so op die wet en die profete beroep en beroem het: Was daar ooit ’n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie?

’n Mens kan nie eintlik aan so iemand dink nie. Al die mense van God het met weerbarstigheid en ongeloof te doen gekry. Aan die begin was dit ’n verset teen die wet. Toe het hulle weer die wet begin vergoddelik uit vrees vir ’n volgende ballingskap. Deur die geslagte gaan dit so: die mense praat saam met die mode-politiek en mode-godsdiens van die dag. Wee die een met God in sy hart, wat begin vrae stel oor gewone daaglikse dinge wat verkeerd is.

Miskien het Stefanus hulle te hard met sy tong geslaan. Hulle was woedend en het op hulle tande gekners (v. 54). Maar die waarheid slaan altyd hard, ook vir jouself. Die groot reël geld altyd dat jy eers die oordele wat jy oor ander uitspreek oor jouself uitspreek. Die profete het dit gedoen. Stefanus ook. En uiteindelik seëvier die Here.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.