Vervolgde kinders – die kleintjies in die leeukuil

Sirië (Foto: Geopende Deure)

Apo (7) van Sirië sê elk aand vir sy ma… “Goeienag. Ek is lief vir jou. Maar moet my nie los nie.”

Hy was maar een jaar oud toe sy pa ontvoer is omdat hy ʼn Christen is. Hy het vir drie jaar ná sy pa se verdwyning glad nie gepraat nie. Hy is nou sewe, en is steeds angstig.

Daardie treffende woorde – “moet my nie los nie” – is nie uniek aan een seuntjie in Sirië nie. Dit is die uitroep van duisende kinders wat vervolg word. Kinders is ʼn kosbare deel van ons samelewing. En mens kan nie anders as om simpatie te hê met hul onskuld en weerloosheid nie.

Jesus het ook ʼn groot liefde vir kinders. Hy het gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. ” (Mark. 10:14)

God beskou kinders as ‘n seën met hul onwankelbare geloof en eerlike kinderlike harte. Maar ongelukkig word hul kinderlike geloof nie altyd goed ontvang nie … Ons weet dat meer as 245 miljoen Christene daagliks vervolging vir hulle geloof ervaar en kinders word nie hiervan vrygespreek nie. Hulle is juis diegene wat die ergste geraak word deur die voortdurende oorlog teen Christene reg oor die wêreld…

Duisende kinders in Nigerië het oor die afgelope jare afgryslikhede aanskou namate Moslem-ekstremiste Christendorpe aangeval en gelowiges vermoor het. Tallose Christenkinders is wees gelaat en meisies so jonk as agt jaar, is ontvoer en verkrag.

Indonesië (Foto: Geopende Deure)

Trinity, ʼn jong Christendogtertjie in Indonesië het steeds pyn van die wonde wat sy opgedoen het toe haar Sondagskool in Indonesië deur ʼn bom aangeval is. Sy was in daardie stadium slegs vier jaar oud.

Selfs “gematigde” gevalle van vervolging teenoor kinders is skokkend. In Indië byvoorbeeld, word kinders uit Christenhuise dikwels verneder en selfs geslaan deur hul onderwysers by die skool. Hulle word uitgewerp en geboelie deur ander leerders terwyl onderwysers maak of hulle dit nie raaksien nie.

Reg oor die wêreld ervaar miljoene kinders vervolging vir hulle geloof of die geloof van hul ouers. En tog is dit nie ʼn vreemde verskynsel nie. Die Woord sê dat enigeen wat toegewyd aan God wil lewe, vervolg sal word. Wat wel merkwaardig is, is hoe hierdie kleinstes in die Here se Koninkryk, net soos Daniël van ouds, vasstaan in hulle geloof en die leeu in die bek kyk … al wat hulle nodig het is om te weet dat hulle nie alleen is nie.

Geopende Deure het ʼn hart vir vervolgde kinders en het verskeie projekte in meer as 60 lande om weerlose kinders soos Apo en Trinity te ondersteun en te help om vas te hou aan Jesus – selfs wanneer dit die moeilikste is. Deur verskeie projekte, soos dissipelskapprogramme, kampe, traumasorg, geletterdheidsprogramme, lewensbenodigdhede vir weeskinders en die kinders van gevangenes, Kinderbybels en Sondagskoolmateriaal poog Geopende Deure om kinders te verseker dat hulle “nooit gelos” sal word nie want hulle Vader in die hemel sorg vir hulle en hul wêreldwye familie in Christus, dis ek en jy, ondersteun hulle.

Wat kan jy doen om hierdie kinders in jou familie staande te hou?

Die kragtigste ding wat ons vir ʼn kind kan doen, is om hulle te leer om saam met Jesus te wandel en Sy liefde aan hulle op praktiese maniere te demonstreer– veral wanneer hulle seer het. En daar is baie kinders wat vandag vir die naam van Christus ly.

En hoe doen ons dit? Eerstens deur te bid! Te bid vir beskerming en vir hulle om as soldaatjies van Jesus, hulle wapenrusting aan te trek. Tweedens kan jy fisies bydra… As jy vandag daartoe gelei voel, kan jy ook ʼn geskenk gee om meer kinders in die vervolgde Kerk te help om te weet dat hulle nooit alleen is nie!

Klik hier vir meer inligting oor hoe jy Christenkinders kan ondersteun!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.