Gedagte vir die dag: Verwag Hóm!

mense_stap_strand_skulpe_NathanSteyn.jpg

(Foto: Nathan Steyn)

Menslik gesproke is dit onmoontlik. Maar by God is alles moontlik! (Matteus 19:26)

Die Bybel het nogal ’n hele klompie grendelverhale. Mense wat om een of ander rede afgesonder, eenkant of gevange gehou is. Dink maar aan Moses wat gevlug het omdat hy ’n moord gepleeg het en in ’n woestyn skape oppas. Of Daniël wat in die leeukuil gegooi is, Josef wat onregverdig in ’n tronk sit, Paulus in die gevangenis en Johannes wat na die eiland Patmos verban is.

Almal van hulle was op ’n manier gevange gehou in hul eie situasie. Tog het elkeen van hierdie verhale ’n wonderlike uitkoms: Moses word deur God geroep om sy volk te red, Daniël stap sonder ’n skrapie uit die leeukuil, Josef word vrygelaat en word onderkoning, Paulus sing lofliedere in die tronk en Johannes skryf, as banneling op Patmos, die brief Openbaring.

Tye wanneer ons op een of ander manier vasgevang voel – kan juis dié seisoene wees waar God Homself op verrassende maniere aan ons kan openbaar. En ons op vreemde maniere vryer kan word.

Verwag jou Here ook daar waar jy teen jóú spesifieke “selmuur” vaskyk. Hy’s dáár.

U doen juis wonderwerke wanneer niemand dit verwag nie, Almagtige. Doen dit ook ín my.

Bron: Krag vir elke dag deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.