Gedagte vir die dag: Verwagtings wat nie realiseer nie

Wind_windpomp_wolke3_ReintDykema.jpg

Foto: Reint Dykema

’n Verwagting wat nie uitkom nie, maak ’n mens mismoedig; ’n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe. (Spr 13:12)

Lees Spreuke 13:6-13

Miskien behoort jy aan die begin van die nuwe jaar vir jouself die saak uit te maak dat álles waarop jy hoop nie vanjaar gaan realiseer nie. Die rede waarom ons soms sielsmoedeloos word, is juis omdat ons dinge graag ánders wil hê as wat hulle werklik is. As jy vir ’n werk aansoek doen en feitlik seker is jy gaan dit kry, is jy platgeslaan as jou aansoek misluk. As jy jou oorsese reis sorgvuldig beplan en jou vliegtuig is drie uur laat, sal jy vir seker vies wees oor die tyd wat jy gemors het. Dit is ook te verstane dat jy teleurgesteld is as jou kind nie sy kursus op universiteit slaag nie …

Daar is tog ’n manier hoe jy teleurstellings in die jaar wat voorlê tot die minimum kan beperk. Leer om nie soveel verwagtings te koester wat dalk nie gaan uitwerk nie en vertrou God met jou drome. Fokus op Hom, wees gewillig om jou wil vir Syne te verruil en vra dat Hy hierdie jaar vir jou sal onderneem; dat Hy jou die krag sal gee om jou krisisse op die regte manier te hanteer.

Moenie altyd as die slagoffer uit elke ramp tree nie, maar leer daaruit. En hou vas aan die belofte in Romeine 8:28: Dat die Here uiteindelik elke ding – ook die rampspoediges – vir jou ten goede sal laat uitwerk as jy Hom liefhet.

Hemelse Vader, help my asseblief om vanjaar my verwagtings wat nie realiseer nie, reg te hanteer. Dankie vir die versekering dat U uiteindelik alle dinge vir my ten goede sal laat uitwerk. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.