Gedagte vir die dag:  Verwonder

kind_klippies_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 71:1-14

U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm. U loof ek gedurigdeur. Ek is vir baie ‘n wonder, want U is my veilige toevlug. (Psalm 71:6-7)

’n Mens kry baie sulke mense: die getroue gelowiges, dié wat van altyd af van God se goedheid kan getuig. Hulle wat hul vertellings van die lewe se uitdagings én alledaagshede gereeld met ’n frase soos dié aanvul: “Die Here is vir my goed …”

Dat dit die Here is wat vir hulle sorg en wat hulle versorg, is vir hulle geen kwessie nie. Hulle ken nie “toevallig” en “per ongeluk” nie. Hulle gebruik nie uitdrukkings soos “soos dit nou maar moes wees” nie. Hulle lewe doodeenvoudig onder die Here se sorg en hulle eet uit sy hand. Punt.

Hoe kosbaar is sulke mense nie, en hoeveel seën bring hulle nie aan sukkelaars en twyfelaars nie. Soos dié psalmdigter tereg sê: Baie mense verwonder hulle aan hom. En ons kan byvoeg: Selfs méér mense put inspirasie uit so ’n lewe, so ’n menswees van die wieg tot die graf.

Ons hoor wel ook sy kreet dat die Here hom ekstra genadig moet wees “nou dat ek oud geword het” (v. 9). Hy is maar té bewus van sy afnemende kragte en die dienooreenkomstige toename in die gevoel van bedreiging. Maar ook dit is tog een van die geloof se vernaamste slagspreuke: Ek is swak, Here; wees U sterk vir my. In ’n week waarin ons gereeld op ons broosheid stuit en met ons onbegrip gekonfronteer word, is dit goed om te weet dat geloof in God nie kampioene oplewer nie; bloot diegene wat weet hoe afhanklik hulle van Hom is. Nie podiumstaners nie, geen medaljewenners nie; bloot hulle wat weet waar hul krag vandaan kom.

Ja, dit is inderdaad om jou aan te verwonder, en om voor dankie te sê.

Liewe Here, my oë rek as ek telkens agterkom hoe groot U is, hoe goed …

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frieda

Dankie Here dat U by my is!!

Yvonne

Dankie genadige Here dat ek nie op my eie krag hoef staat te maak nie….ek kyk op na die berge waar sal my hulp vandaan kom……net van die Here wat hemel en aarde geskape het…Amen