Gedagte vir die dag: Verwondering vra oefening

Aandster_Stiltetyd_See.jpg

Foto: en.wikipedia.org

Lees: Psalm 26

As ’n onskuldige, Here, was ek my hande en draai ek na u altaar toe om my loflied te sing en van al u wonders te vertel. (Psalm 26:6-7)

Verwondering kom nie sommer vanself nie. ’n Lewenswyse van verwondering moet geoefen word – eers moet ons klein begin, klein tydjies op ’n slag, maar gereeld, totdat dit uiteindelik ’n lewenswyse vir ons word totdat ons dit outomaties doen, sonder dat ons eers daarvan bewus is. Elke mens kan leer om verwondering te oefen in ons daaglikse manier van lewe. En die mens wat dit regkry, se lewe word oneindig verryk, skryf Dirkie Smit in sy weeklikse rubriek “Geestelike waardes”, in Die Burger.

Ons oefen verwondering deur drie basiese maar broodnodige aksies, verduidelik Smit. Die eerste ding wat ons te doen staan, is om ander en alles te respekteer: “Vergeet ’n slag watter nut hulle dalk kan hê. Waardeer en respekteer hulle, sommer net omdat hulle dáár is en só is, wie en wat en hoe ook al. Die tweede ding: Gee aandag – aan ander, aan alles. Merk hulle op. Sien hulle raak. Bekyk hulle. Niks en niemand is ooit dieselfde nie, élk, álmal is uniek in eie reg. Let dit ’n slag op. En die derde ding: Stel beláng in alles en almal, wees nuuskierig, gee om, vra uit, wil wéét, wil ’n slag regtig hóór, wil ’n keer regtig verstáán.”

Mettertyd sal hierdie oefening in verwondering ’n deel van jou lewe word, dit sal vanself kom sonder dat jy jou doelbewus hoef in te stel daarop. Dan kan jy ook ander van God se wonders vertel soos die psalmdigters so graag doen.

Here, baie dankie dat U vir my die gawe van verwondering gegee het. Help my om dit in te oefen en te ontgin totdat dit onlosmaaklike deel van my lewe sal wees. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mirna ·

Ja – dit is ‘n kuns om nog verwonderd te wees maar ‘n Godgegewe talent wat ons nie ontgin nie. Mens mis elke dag so baie uit deur net volgens roetine aan te gaan en almal/als om jou as vanselfsprekend te aanvaar. Ek gaan hierdie raad volg. Dankie daarvoor!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.