Video: Kersfees sonder my pa

Rafif en haar ma, Lilian, vier Kersfees elke jaar blymoedig omdat hulle met hoop na ʼn beter toekoms kan uitsien (Foto verskaf)

Kersfees is in die Christelike kultuur tradisioneel ʼn tyd van vreugde waar ons op Jesus fokus, maar miljoene vervolgde Christene reg oor die wêreld het nie die voorreg om Sy geboortedag openlik saam met hul geliefdes te vier nie.

Rafif, ʼn elfjarige meisie van Irak, is een van talle kinders in die vervolgde Kerk wat die prys moet betaal vir haar ouers se geloof in Jesus. Die feesgety vier sy sonder haar pa, ʼn held wat met sy lewe geboet het vir sy Christenskap.

Kyk haar getuienis hier:

Hoë prys vir dapperheid

Rafif se pa, Raddif, is voor haar geboorte dood toe hy ʼn heldedaad gedoen het om ʼn gewelddadige aanval op ʼn bus vol Christen-studente te keer. Eendag, terwyl hy op pad was na sy winkel om te gaan werk, het hy springstof opgemerk wat op die punt was om te ontplof waar die bus oomblikke later sou stilhou. Hy het in die gevaar ingestorm en die busbestuurder gewaarsku.

Danksy Raddif se manhaftigheid het die bus betyds tot stilstand gekom en is slegs een student dood, maar hyself het nie die aanval oorleef nie. Rafif het nooit die geleentheid gehad om haar pa te ontmoet nie.

Kosbare herinneringe bring hoop

Al het Rafif haar pa nooit geken nie, mis sy hom vreeslik in die Kersgety. Sy koester kosbare herinneringe aan hom wanneer sy die Kersboom versier en ʼn handgemaakte nabootsing van Jesus se geboortetoneel aan die Kersboom ophang. Haar pa het dié pragtige geboortetoneel met die figure van Josef, Maria en Jesus voor sy dood gemaak.

“Hierdie geboortetoneel is my spesiale manier om my pa in die Kerstyd te onthou. Hoewel sy sitplek aan ons Kerstafel elke jaar leeg is en hy voor my geboorte van ons weggeneem is, laat dit my voel asof hy by ons Kersfees teenwoordig is en hierdie wonderlike tyd saam met ons deurbring. Ek kan nie ʼn Kersete met hom deel nie, maar het ʼn vonk van hoop om my te troos en te versterk,” sê sy.

Rafif wonder dikwels waarom haar pa vir Jesus gesterf het en hulle sonder hom die feesgety moet deurbring. Sy het talle vrae oor sy lewe, geloof en die Redder waarvoor hy gesterf het nog voordat sy hom kon ontmoet. Dit is veral vir haar moeilik wanneer haar vriende oor hul pa’s praat en spesiale stories oor hulle deel.

Nader aan Jesus…

Rafif koester tydens Kersfees spesiale herinneringe aan haar oorlede pa, wat weens sy geloof gesterf het (Foto verskaf)

Rafif se geloof en verhouding met Jesus het drasties versterk sedert sy in ʼn Christelike skool by ʼn Sentrum van Hoop is, wat deur Geopende Deure ondersteun word. “Die lesse help my om sterk te staan te midde van die storms van vervolging en ook om te reflekteer oor wat met my pa gebeur het.

“Ek lees die Bybel om my verhouding met Jesus te versterk en te verstaan waarom Christene vervolg word. Dit gee my selfvertroue en help my om die waarheid oor Jesus te leer. Die stories in die Bybel waar mense ander se lewens red, laat my besef dat my pa net soos die dapper helde in die Woord was. Hy was een van dié helde, wat gesterf het om ander se lewens te red,” vertel sy.

Bring hoop vir vervolgde kinders

Duisende kinders soos Rafif in Irak en ander lande oor die wêreld ervaar gewelddadige vervolging en diskriminasie omdat hulle Jesus volg. Danksy die ondersteuning van Geopende Deure se vennote, word hulle egter beskerm en hoop gegee om ʼn beter toekoms tegemoet te gaan.

Jy kan deel wees hiervan deur vandag die vonk van hoop vir vervolgde kinders soos Rafif te wees deur hulle met ʼn Kersgeskenk te seën. Jou bydrae vandag sal help om hulle van Bybelse onderrig, Christelike hulpbronne, basiese skoolonderrig en noodleniging te voorsien. Klik hier om dié Kersfees ʼn kind in ons vervolgde familie se lewe te verbeter en aan hulle hoop vir die toekoms te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.