Video: Onwrikbare geloof in God se krag

Kirti en haar kinders was in lewensgevaar nadat sy tot bekering gekom het. (Foto: Geopende Deure)

Kirti*, ʼn jong moeder in landelike Indië, se storie is een van groot verliese en ontberings vir Christus. Sy straal egter ʼn ligtheid uit wat sprekend is van God se krag in haar lewe.

Kirti het tot bekering gekom nadat God haar tydens ʼn kerkdiens van ʼn aftakelende siekte genees het. Sy en haar man het daarna ernstige vervolging van hul gemeenskap ervaar omdat hulle hul tradisionele Hindoe-geloof verlaat het.

Sy is herhaaldelik met geweld en selfs die dood gedreig indien sy nie haar nuwe geloof prysgee nie, maar sy het geweier om Jesus te verraai. “Ek het dit duidelik gemaak dat ek nie sal ophou om in Christus te glo nie en nie bereid is om my geloof prys te gee nie,” sê sy.

Gewelddadige aanval

Tydens ʼn geheime kerkbyeenkoms by Kirti se huis het ʼn skare mense opgedaag en die groep Christene erg aangerand. Hulle het Kirti se Bybel in die vuur gegooi en dit voor haar verbrand. Sy is genadeloos met stokke geslaan. “Ek het aanhou bid dat die Here ons moes red,” vertel sy.

Die mense het Kirti se huis geplunder en al haar kos gesteel – rys, koring, groente en selfs haar hoenders en bokke. Hierna het al die dorpenaars bymekaar gekom vir ʼn fees, waar hulle Kirti se diere en ander kos gaargemaak en opgeëet het.

Ná die aanval was Kirti vir twee weke in die hospitaal weens ernstige beserings. Haar rug is tydens die aanval gebreek – ʼn besering wat haar vandag nog verhoed om te werk omdat sy sukkel om te loop.

ʼn Hoë prys…

Kirti moes talle ontberinge deurmaak vir haar geloof. (Foto: Geopende Deure)

Toe Kirti en haar man na die voorval terugkeer huis toe, het die dorpenaars geweier om met hulle praat en hulle verhoed om water uit die gemeenskaplike put te kry. ʼn Paar Christene het geleidelik weer na Kirti se huis begin kom vir gebedsbyeenkomste. Die dorpenaars was woedend toe hulle daarvan hoor.

ʼn Groep mans het een nag om Kirti se huis saamgedrom en haar man ontvoer. Hy is vir dae lank gemartel en uiteindelik wreedaardig doodgemaak vir sy geloof in Jesus. Niemand is tot dusver vervolg of in hegtenis geneem vir sy moord nie.

Ná hierdie gebeurtenis moes Kirti en haar kinders die dorp verlaat. Hulle het danksy hulp van Geopende Deure-vennote in ʼn skuilhuis gaan bly, waar hulle noodsaaklike ondersteuning, kos, klere, komberse, finansiële en geestelike hulp ontvang het.

Onwrikbare geloof

Kirti ween by haar man se graf, wat buite die dorp is omdat die owerhede geweier het dat sy hom in die begraafplaas begrawe. (Foto: Geopende Deure)

Ondanks al haar verliese en ontberings, is Kirti se geloof onwrikbaar. “Ek het alles in Jesus se hande oorgegee. Wanneer ek hartseer voel, dink ek aan die Woord van God en Sy hulp. Baie nuwe Christene versaak hul geloof weens vervolging, maar ek staan vas in my geloof. Ek is danksy julle hulp en liefde vandag nog lewend en ʼn volgeling van Jesus.”

Kirti het onlangs na haar tuisdorp teruggekeer om daar ʼn lig vir Christus te wees. Die dorpsmense probeer haar gedurig wegjaag en dreig om haar dood te maak, maar sy verkondig God se Woord onder hulle en bid vir hulle redding.

Kirti is een van duisende Christene wat hulle daartoe verbind het om Jesus in ʼn Hindoe-wêreld te volg. Hulle is afhanklik van die ondersteuning van die Liggaam van Christus wêreldwyd om sterk te staan vir Christus.

Jy kan met ʼn geskenk van so min as R50 help om in die dringendste behoeftes van vervolgde Christene soos Kirti te voorsien. Dit sal hulle opnuut laat besef dat hulle nooit alleen is nie en dat hul geloofsfamilie om die wêreld hulle ondersteun.

Klik hier om ons vervolgde familie te ondersteun.

*Naam verander weens sekuriteitsredes.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae