Video: Reg om te vlug, maar vasbeslote om te bly…

Dalia in ʼn kerk in Erbil (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Vir Christen-vroue soos Dalia* is die lewe op die Nineve-vlakte in Irak ʼn voortdurende uitdaging, maar ten spyte van jare se aanhoudende vervolging en bedreiging kies duisende vroue om in die land te bly sodat die kerk in Irak sy roeping kan vervul. Danksy die ondersteuning van ander Christene wêreldwyd, is die kerk in Irak vandag steeds ʼn baken van hoop vir duisende mense.

Dalia verduidelik die daaglikse realiteit vir hulle as Christene: “Ons tasse is altyd gepak, indien ons moet vlug. Ek waarsku my kinders gedurig om versigtig te wees. My dogter studeer in Mosoel, waar ontvoerings en ontploffings algemeen is.”

Vir so lank as wat sy kan onthou, het Dalia vervolging vir haar geloof ervaar. Haar oom is 14 jaar gelede deur Islamitiese ekstremiste vermoor, wat gesê het dat volgelinge van Jesus nie in Irak hoort nie. Haar pa het tydens haar oom se begrafnis ʼn telefoonoproep van die moordenaars ontvang waarin hulle gedreig het om nog ʼn lid van die familie dood te maak as hulle nie ʼn reusagtige bedrag geld betaal nie.

Geroepe om te bly

Hoewel al haar familie Irak verlaat het, kies Dalia om in haar land te bly omdat sy geroepe voel om die kerk in Irak te dien. Danksy die ondersteuning van Christene wêreldwyd kon Geopende Deure se plaaslike vennote haar bemagtig in hierdie roeping deur opleiding aan haar te voorsien om ander Christenvroue en hul families in Bybelstudies te lei.

“Ons is geleer hoe om vir vroue in Bashiqa van Jesus Christus te vertel en hulle te leer hoe om Hom in liefde te dien. Ons het ook geleer hoe om kontakte te maak en hoop oor te dra,” vertel sy.

Dalia en haar vrouegroep in Bashiqa het ná die opleiding begin om gereeld Bybelstudie-byeenkomste vir vroue te reël. “Ons bied ʼn gebedsbediening en bemoediging aan die vroue. Dit is uiters gewild – altesaam 150 vroue het die vorige somer aan ons byeenkomste deelgeneem. Ek kan sien hoe die Heilige Gees onder hulle werk.

“Dit maak my baie gelukkig om te hoor hoe ʼn vrou saam met haar gesin voorberei vir Bybelstudie by die huis. Dis duidelik dat die kerk te midde van vervolging groei en vroue bemagtig word om ʼn boodskap van hoop te versprei.”

Kerk in die sitkamer

Dalia en haar vrouegroep in Bashiqa (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Gedurende die Covid-19-beperkings in Irak sukkel Dalia se bediening om kop bo water te hou. Talle kerkgeboue moes hul deure weens die pandemie sluit omdat byeenkomste met groepe mense verbied word. Sy en haar vrouegroep moes gevolglik aanlyn kerkdienste vir plaaslike volgelinge van Jesus reël en het op hierdie manier talle vroue se sitkamers in klein kerkies omskep.

Dalia sê dit bring hoop vir die vroue om te sien hoe die Heilige Gees werk, en hoe die Evangelie en die Kerk floreer te midde van vervolging en die pandemie.

Sy sê: “Daar is geen beter plek om bymekaar te kom as in ʼn kerk nie, en daar is geen beter plek om hoop te vind as in die Bybel nie. Wanneer ek hartseer, verdruk en seergemaak voel, wend ek my tot die Here. Dan ervaar ek spoedig vrede in my hart.”

Gebedspunte

  • Bid asseblief vir krag en bemoediging vir Dalia en ander vroue soos sy, wat weens hul roeping vervolging in die gesig staar. Bid dat God haar werk sal seën en dat die vroue se Bybelstudiegroepe sal floreer en groei.
  • Danksy die ondersteuners van Geopende Deure, is sowat 65% van alle kerke in Irak (125 gemeentes) in bakens van hoop omskep wat die goeie nuus van die Evangelie versprei. Bid dat die kerk ondanks vervolging sal aanhou om ʼn kragtige getuienis vir die Here in Irak te wees.

Jy kan help om ʼn verskil te maak in die lewens van Christenvroue in Irak en ander lande waar Christene aan ernstige vervolging blootgestel word. ʼn Geskenk van slegs R340 vandag sal help om een vrou en haar kinders ʼn maand lank van kos en huisvesting te voorsien.

Klik hier om vandag ʼn verskil in die lewens van vervolgde Christenvroue te maak. Jou geskenk sal die wêreld vir ’n vervolgde vrou en haar gesin beteken.

*Naam verander weens sekuriteitsredes.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae