Gedagte vir die dag:  Vier jou geloof

God-sentrum-van-my-lewe

Foto: Argief

Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek. (Eksodus 15:2)

Moses het die Israeliete veilig deur die Rietsee gelei. Hulle staan op droë grond aan die ander kant van die see. Die Here het nog ’n wonderwerk gedoen. Hy het die see laat opdroog sodat hulle kan deurstap. Daarna het Hy die water oor hul Egiptiese agtervolgers laat spoel. Die Israe­liete was doodsbenoud dat hulle sou sterf en nou weet hulle presies hoe groot en sterk die Here God is. Tien plae en ’n veilige tog tot by die Rietsee kon hulle nie oortuig nie, maar noudat hulle finaal verlos is van die Egiptenaars, glo hulle in Hom en ook in Moses, sy dienaar.

Hulle slaan kamp op en vier fees. Moses sing saam met hulle ’n lied. Hulle sing van die Here se oorwinning. Hy het die strydwaens van die farao en sy hele leër in die Rietsee verdrink. Dit word ’n refrein, hulle sing dit oor en oor tot almal die woorde ken. Die Here is hoog verhewe, die Here is sterk, geen god is groter as die Here nie. Al die ander volke weet dit. Die Filistyne en Edomiete, die Moabiete en Kanaäniete, almal is versteen van vrees. Die Here sit op sy troon en regeer vir ewig.

Miriam vat ’n tamboeryn, die vroue volg haar, hulle dans koordanse en sing: ‘Sing tot eer van die Here omdat Hy hoog verhewe is. Perd en ruiter het Hy in die see geslinger’ (Eks 15:21).

Vier vandag jou verlossing in Jesus. Vertel dit vir almal wat wil hoor. Deel jou vreugde met jou vriende, skryf dit op jou Facebookblad, sit dit op jou webwerf, blog dit, roep dit uit.

Kan dit wees, Here? Ek lewe en my vyand, die duiwel, is vir my dood? Net gister het ek gedink hy haal my in. Toe het U my gegryp en by die voet van die kruis neergesit.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Roela ·

Dankie Jesus dat U altyd daar is vir my. U het my geleer wat onvoorwaardelike liefde is. Daar is geen volmaakte liefde soos U liefde. Dankie dat ek U kind en U my Vader is. Ek het U lief Abba Vader.

Petra Brummer ·

Abba Vader, Pappa God baie dankie dat U my (ons) eerste liefgehad het, so lief dat U, U eersgebore Seun Jesus Christus gestuur het om my (ons) van ‘n ewige dood met Sy Kosbare Bloed los te koop. Baie dankie Jesus Christus vir U kosbare Heilige Gees wat by en in ons woon en dit is Christus in my (ons) wat my (ons Hoop van Heerlikheid is!

Lieb ·

Baie dankie vir die oordenking en ek geniet dit baie. Daar is egter ‘n feilike regstellinkie. Ek dink Moses het die Israeliete veilig deur die Rooisee gelei en nie die Rietsee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.