Vier jy ook vandag die Hemelvaart?

sonsopkoms-kilimanjaro-afrika

Sonsopkoms oor Kilimanjaro. Foto: Bibachris/Pixabay.com

Deur dr. Christo Pretorius

Verskeie state, veral diegene wat hul bestaan en voortgang na Westers-Christelike grondslae kan teruglei, vier vandag Hemelvaart.

Dié dag gedenk en bely die gebeure rondom die persoon van Jesus van Nasaret wat deur gelowiges as hoof van die kerk en Here oor die wêreld bely word.

Vir talle state en burgers is dit ’n uitgediende en vergange opvatting.  Die impak van die rasionalisme en resultate van die natuurwetenskappe het daartoe gelei dat die mensdom die geloofsgrondslae van die hedendaagse bestaan betwyfel.

Dit is nie meer gelooflik dat die man van Nasaret, vanweë sy kruisiging, opstanding en hemelvaart geken en erken word as die Here wat oor alle magte heers nie en wat volgens die Bybelse getuienis die ganse werklikheid ten goede lei nie. Trouens, Jesus Christus en sy Woord word in sommige kringe hoogstens verdra, verswyg of met leedvermaak ontluister.

Maar wie of wat heers wanneer Christus se heerskappy oor die ganse werklikheid, oor lewe en dood ontken word?

Die hervormer Johannes Calvyn het per geleentheid opgemerk dat die mens ’n bekwame afgodsmaker is. Dat die mens ’n bekwame afgodsmaker is, is net so duidelik aan die hand van wat die mens as waardevol reken, en by verlies aan die hemelse, verhef die mens die aardse en vergoddelik die stoflike.

Die legio ideologieë en denkgiere dien ter illustrasie.  Vanuit die Marxisme, sosialisme en ander “-ismes” word ’n utopie, ’n hemel op aarde beloof wat wissel tussen bandelose vryheid en slaafse onderdanigheid.

Hierdie hemel op aarde is baie duur en die prys hiervan kan aan die hand van ’n bloedige negentiende en twintigste eeu bereken word. Die bloed aan die hande van Hitler, Stalin, Lenin, Mau Zedong is die bloed van miljoene vaders, moeders en kinders.

Die aanhang van hierdie mensvernietigende ideologieë deur die ANC, EFF en Suid-Afrikaanse kommunistiese party voorspel niks goeds vir Suid-Afrika en sy mense nie.  Soos alle ideologiese dwangbuise word die werklikheid verskraal en met verskeie middele aangebied, as die enigste werklikheid.

In plaas van hemel op aarde word die ou Draak uit die donker dieptes opgediep en word mag en die ou middele van oorheersing gebruik om te verslaaf, te verneder en te vernietig en bevind mense hulle mettertyd in ’n hel op aarde.

Hemelvaart kondig egter aan dat daar troos is. Dié troos dat die Here die nood van die mens raaksien en sy kruisiging, dood, opstanding en hemelvaart dien as versekering dat alles in die hemel en op die aarde aan hom ondergeskik is.

Dit is moeilik om te glo dat alle magte Christus moet en sal dien. Tog is dit wat Christus se hemelvaart aankondig – Christus heers oor die ganse werklikheid en lei alles ten goede.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kersvader ·

Nee ongelukkig nie, want die Christene kon nie opstaan en saamstaan toe die vakansiedag afgeskaf is nie . Ons ruggraatlose Christene het weereens ingegee en nog iets opgegee want die liberales en ongelowiges sal ‘aanstoot’ neem. So moet die Christene maar aanstoot neem as vakansiedae weggeneem word en godslastering gepleeg word (want dit is nie meer ‘n kriminele oortreding nie, gee ook klaarblyklik nie meer aanstoot aan menige politiek korrekte Christene nie) en ‘n dag wat vir hulle iets beteken het is met kommunistiese dae vervang word soos werkersdag en dan ook natuurlik vryheidsdag en vrouedag. Net een stel mense word bevoordeel, en dis gewoonlik nie die wat belasting betaal of noodwendig die Christelike geloof beoefen nie. SO JAMMER as ek nou nie vandag kon deelneem aan HEMELVAART nie, want diegene in hoë godsdienstige leiersposisies wou nie opstaan daarvoor nie, netnou OFFEND ons diegene wat nie Christene is nie .. een van die dae gaan Kersfees ook waai!

BenaYaHU ·

@Kersvader
Diepe woede te bespeur..
Terloops, WAAR staan dit dat “kersfees” in in die WARE Geskrifte “gevier” behoort te word..
Jy is uiters vinnig om na “kommunistiese” dae (ek stel eerder voor mensgemaakte vakansiedae) te verwys, maar al OOIT dieper studie gaan doen tov. “kersfees” .. oorsprong, redes, ens.
Indien wel, met ‘n leerbare houding en ope (nederige) gemoed, sou jy heel moontlik SELF ‘n einde bring aan ‘n dag deur die nasies/mense ingestel .. algemeen na verwys as “heidens”..
Hierdie is NIE ‘n aanval op jou bg. siening, dit is ‘n uitwys van jou foutiewe gevolgtrekking ..

Vakansie? ·

Niks keer ‘n mens om nog steeds Hemelvaart te vier nie. Jy het nie ‘n vakansiedag daarvoor nodig nie en niemand kan dit van jou af wegneem nie. As jy van Hemelvaart vergeet, omdat dit nie meer ‘n vakansiedag is nie, moet jy vir jouself die vraag afvra: of dit werklik vir jou so belangrik is. If your faith does not cost you anything, then it is dead.

BenaYaHU ·

Geagte dr.
WAAR presies in die Geskrifte word daar aangedui dat “hemelvaart” ‘gevier’ behoort te word?
En mag die antwoord wees volgens Skrifgebaseerde eksegese en beslis nie hermeneutiek,

Sinkretisme..?
Vervangingsteologie..?
Doktrines van mense..?
Tradisies..?
ens…

Wat my persoonlike studies en navorsing (twaalf+ jare) van die ware Geskrifte egter wel beaam, is dat enige bestaande “geloof” geensins leer/vervat dit wat waarlik in die Geskrifte geleer word nie.

WAAR ·

Hoë woorde maak niemand heilig nie. Elkeen het die reg om te vier wat hy wil en WANNEER hy wil. Alles staan nie in die “geskrifte” of Bybel uitgespel nie en ons het ‘n brein gekry sodat ons kan dink. Wedersydse respek vir mekaar se gebruike sal hierdie wêreld ‘n beter plek maak.

BenaYaHU ·

@WAAR
Hoe woorde .. regtig? “heilig” .. nee dankie!
Jy is welkom om te glo wat jy wil, wanneer jy wil en wie jy wil respekteer.. net soos ek verseker welkom is om die alledaagse VERDRAAIING van die WARE leringe te bevraagteken.
Of, gun jy my nie die wedersydse respek wat jy so goedsmoeds rondslinger nie?
EK stel egter beslis belang in Waarheid .. en as jy ‘n “christen” is, asook wat ek aflei van jou stelling, dan is dit sekerlik NIE vir jou van belang, want “genade” is mos skynbaar deesdae al wat tel.. Net NOG ‘n valse lering! Waak maar egter net om nie te veel te kompromeer nie!
Terloops, indien jy wel “gelowig” is, en dit wat in die “biblos” aangeteken staan as “gelowige” voorstaan, dan sal ek jou aanraai om BESLIS vir jouself te begin DINK en self dieper studie te begin doen.. en om NIE net alles wat elke valse prediker aan jou opdra, met watter “opregtheid” ookal, te glo nie.
Dus, ek het begrip vir jou “gebruike” (en waarteen Die Geskrifte waarsku!), maar ek hoef nie sommer alles net te aanvaar nie – daarom dus steeds my vraag —
WAAR in Die Geskrifte word daar enigsins Opdrag gegee vir die “viering” van “hemelvaart”, “kersfees”, of enige van die ander ‘mensgemaakte’ vakansiedae? Dis eintlik baie maklik! Nêrens!!
DWS. Sinkretisme, Vervangingsteologie, Tradisies en Doktines van mense!

Essa ·

Kersvader, hoekom het jy ‘n vakansiedag nodig om ‘n Christen te wees? As Kersdag wegval gaan jy op hou glo dat Jesus gebore was? Ek glo onverstoorbaar dat Jesus Christus gebore was, gekruisig was, opgestaan het en na sy Vader in die hemel opgevaar het. En geen politieke bestel se besluite sal my geloof ontspoor nie. Vier hemelvaart sonder al die intellektuele redenasies – in vrede.

Vetkat ·

Kersvader natuurlik kan dit nie n kriminele oortreding wees nie as ek nie sulke mites wil aanhang nie. Ek betaal ruim belasting en ondersteun dit 100%dat die land nie hoef tot stilstand te kom oor outydse fabels nie. Jy kan dit vier vir jou plesier ou dier-in jou eie huis op jou eie tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.