Vier jy ook vandag die Hemelvaart?

sonsopkoms-kilimanjaro-afrika

Sonsopkoms oor Kilimanjaro. Foto: Bibachris/Pixabay.com

Deur dr. Christo Pretorius

Verskeie state, veral diegene wat hul bestaan en voortgang na Westers-Christelike grondslae kan teruglei, vier vandag Hemelvaart.

Dié dag gedenk en bely die gebeure rondom die persoon van Jesus van Nasaret wat deur gelowiges as hoof van die kerk en Here oor die wêreld bely word.

Vir talle state en burgers is dit ’n uitgediende en vergange opvatting.  Die impak van die rasionalisme en resultate van die natuurwetenskappe het daartoe gelei dat die mensdom die geloofsgrondslae van die hedendaagse bestaan betwyfel.

Dit is nie meer gelooflik dat die man van Nasaret, vanweë sy kruisiging, opstanding en hemelvaart geken en erken word as die Here wat oor alle magte heers nie en wat volgens die Bybelse getuienis die ganse werklikheid ten goede lei nie. Trouens, Jesus Christus en sy Woord word in sommige kringe hoogstens verdra, verswyg of met leedvermaak ontluister.

Maar wie of wat heers wanneer Christus se heerskappy oor die ganse werklikheid, oor lewe en dood ontken word?

Die hervormer Johannes Calvyn het per geleentheid opgemerk dat die mens ’n bekwame afgodsmaker is. Dat die mens ’n bekwame afgodsmaker is, is net so duidelik aan die hand van wat die mens as waardevol reken, en by verlies aan die hemelse, verhef die mens die aardse en vergoddelik die stoflike.

Die legio ideologieë en denkgiere dien ter illustrasie.  Vanuit die Marxisme, sosialisme en ander “-ismes” word ’n utopie, ’n hemel op aarde beloof wat wissel tussen bandelose vryheid en slaafse onderdanigheid.

Hierdie hemel op aarde is baie duur en die prys hiervan kan aan die hand van ’n bloedige negentiende en twintigste eeu bereken word. Die bloed aan die hande van Hitler, Stalin, Lenin, Mau Zedong is die bloed van miljoene vaders, moeders en kinders.

Die aanhang van hierdie mensvernietigende ideologieë deur die ANC, EFF en Suid-Afrikaanse kommunistiese party voorspel niks goeds vir Suid-Afrika en sy mense nie.  Soos alle ideologiese dwangbuise word die werklikheid verskraal en met verskeie middele aangebied, as die enigste werklikheid.

In plaas van hemel op aarde word die ou Draak uit die donker dieptes opgediep en word mag en die ou middele van oorheersing gebruik om te verslaaf, te verneder en te vernietig en bevind mense hulle mettertyd in ’n hel op aarde.

Hemelvaart kondig egter aan dat daar troos is. Dié troos dat die Here die nood van die mens raaksien en sy kruisiging, dood, opstanding en hemelvaart dien as versekering dat alles in die hemel en op die aarde aan hom ondergeskik is.

Dit is moeilik om te glo dat alle magte Christus moet en sal dien. Tog is dit wat Christus se hemelvaart aankondig – Christus heers oor die ganse werklikheid en lei alles ten goede.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
adriana

Baie dankie

Kersvader

Nee ongelukkig nie, want die Christene kon nie opstaan en saamstaan toe die vakansiedag afgeskaf is nie . Ons ruggraatlose Christene het weereens ingegee en nog iets opgegee want die liberales en ongelowiges sal ‘aanstoot’ neem. So moet die Christene maar aanstoot neem as vakansiedae weggeneem word en godslastering gepleeg word (want dit is nie meer ‘n kriminele oortreding nie, gee ook klaarblyklik nie meer aanstoot aan menige politiek korrekte Christene nie) en ‘n dag wat vir hulle iets beteken het is met kommunistiese dae vervang word soos werkersdag en dan ook natuurlik vryheidsdag en vrouedag. Net een stel mense… Lees meer »

BenaYaHU

Geagte dr.
WAAR presies in die Geskrifte word daar aangedui dat “hemelvaart” ‘gevier’ behoort te word?
En mag die antwoord wees volgens Skrifgebaseerde eksegese en beslis nie hermeneutiek,

Sinkretisme..?
Vervangingsteologie..?
Doktrines van mense..?
Tradisies..?
ens…

Wat my persoonlike studies en navorsing (twaalf+ jare) van die ware Geskrifte egter wel beaam, is dat enige bestaande “geloof” geensins leer/vervat dit wat waarlik in die Geskrifte geleer word nie.

Theresa

Amen!

Essa

Kersvader, hoekom het jy ‘n vakansiedag nodig om ‘n Christen te wees? As Kersdag wegval gaan jy op hou glo dat Jesus gebore was? Ek glo onverstoorbaar dat Jesus Christus gebore was, gekruisig was, opgestaan het en na sy Vader in die hemel opgevaar het. En geen politieke bestel se besluite sal my geloof ontspoor nie. Vier hemelvaart sonder al die intellektuele redenasies – in vrede.