Jesus het opgestaan, die winde en die see streng aangespreek en daar het ’n groot kalmte gekom. (Matt 8:26b)
Vrees het ’n manier om jou keel toe te wurg, jou maag op ’n knop te trek en jou onrustig en bekommerd te maak. En hoe baie van ons loop nie gedurig met ’n stuk bang in ons nie: Ons vrees die onbekende, ’n nuwe begin, ’n groot uitdaging … ons vrees dat ons nie goed genoeg sal wees nie, nie die mas sal opkom nie, nie sal presteer nie.
Dis dan wanneer ons maar net weer moet onthou dat ons Jesus met een woord storms stilmaak en dat Hy – selfs in die ergste tye – onwankelbaar getrou bly. Onbeweeglik God is.
As jy so ’n bietjie engtevrees oor ’n klomp goed het, bid saam die volgende:
Soms, Here, voel dit of die golwe van die lewe sonder ophou oor my spoel. Slegs die getye van hoog- en laagwater verskil. Dan onthou ek weer dat ek toe nié aan ’n dobberende seegras vashou nie, maar dat ek op U gebou is. U – die Rots. U – die Fondament waarteen die golwe maar kan slaan sonder dat U een millimeter wyk. Dan vind ek vrede by dié plek in my hart waar U is. U, van Wie daar gesê word: “Hoe is dit moontlik dat selfs die winde en die see na Hom luister?” Dan vind ek rus in U – die Moontlike.
Gaan leef jou dag … vreesloos!
Ek vind regtig my vrede in U, mý Allerhoogste.
Amen
Amen